MIELIEMEELHAPPIES

Rika Theron

Bestanddele:
375 ml melk
375 ml mieliemeel
1 groot ui, fyn gekap
1 groot groen soetrissie, fyn gekap
2 stele seldery, in ringe gesny (opsioneel)
2 medium wortels, in dun ringe gesny
50 ml botter
500 ml koekmeelblom
20 ml bakpoeier
5 – 7 ml sout
5 – 7 ml tiemie
1 ml rooipeper
1 ml neutmuskaat
25 ml suiker
3 ekstra groot eiers, effens geklits.

Metode:
Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer twee panne van 24 x 24 cm met margarien. Verhit die melk tot kookpunt in ‘n groot kastrol op die stoof. Voeg die mieliemeel lepelsgewys by terwyl aanhoudend geroer word. Meng goed en verwyder dan van die stoofplaat. Laat effens afkoel. Soteer die groente in verhitte botter tot effens sag. Voeg by die mieliemeelmengsel en meng goed. Meng die res van die bestanddele, buiten die eiers, goed saam. Voeg dit beurtelings met die geklitste eiers by die mieliemeelmengsel en meng goed. Verdeel die mengsel in twee en skep in die voorbereide panne. Bedek en bak 30 minute lank of tot gaar. Sny in blokkies en dien warm of koud op saam met tuisgemaakte tamatiesous.

Variasie:
Skep lepelsvol van die mengsel in verhitte olie en diepvetbraai tot goudbruin en gaar van binne. Dreineer op handdoekpapier.

Vir ‘n vinnige tamatiesous:
Gebruik ‘n blik tamatie-en-uiesmoor, geur dit met sout, swartpeper en basielkruid en kook dit af totdat dit nie meer waterig is nie.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 39 times, 1 visits today)
Advertisements
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *