Dankie vir die arms en sagte hande!

Dankie vir die arms en sagte hande!
Hallo Frik

Ek raak stil en dink so bietjie oor my lewe. Ek besef dat ek nie is wie ek is omdat ek dit op my eie reggekry het nie. Die omgewing waar ek groot geraak het en die mense met wie ek skouer geskuur het (en steeds skuur) en bal geskop het (en steeds skop – alhoewel dit nie meer so vêr trek nie …), het ’n baie groot invloed op my lewe gehad.

Ek dink sommer nou aan die legende van Tarzan. Op ’n afgeleë eiland is sy ouers dood toe hy nog ’n pap babatjie was en sy toekoms was nie langer as ’n dag of twee verder in die pad af nie. Gelukkig kom daar ’n groot gorilla mamma verby en ontferm haar oor die skreeuende kleintjie.

Tarzan het gedink hy is ook ’n gorilla. Die ander het ook gedink hy is ’n gorilla, net ’n ander weergawe met minder hare. Die gorillas waarmee Tarzan grootgeword het, het hom gevorm. Ai, dit het altyd vir my so lekker gelyk as Tarzan so met die toue deur die bos vlieg. Maar wag, nou gaan my gedagtes te vêr van die pad af.

Die punt is dat die mense om ons ’n groot rol in ons lewens speel. Ek is wie ek is omdat ander mense ’n rol in my lewe gespeel het. Sommige groot rolle en sommige nie so groot nie, maar tog.

Die probleem is dat ons so aan die hol is en met die lewe stoei dat ons dit nie besef nie. Toe ons nog jonk was, was ons so besig om onsself en ons plekkie in die son te vind, dat ons nie besef het watter groot rol ons ouers (tussen die bloed, sweet en trane) en broers en susters gespeel het om te keer dat ons nie oor die grense foeter nie.

Ons skool tjommies, ons rugby-kyk-tjommies, ons braai tjommies en al die ander tjommies het so speel-speel tussen die kuiers deur vir ons ’n les geleer en daarom is ons vandag wie ons is.

Ons eggenote en selfs ons kinders het gehelp skuur. Ja, soms het die bloed gevloei, maar wie het nou gesê dit gaan maklik wees om die skerp rande glad te kry?

Die ouens vir wie ons gewerk het, al was hulle soms kwaai. Die mense wat vir ons gewerk het, al het hulle ons soms boos gemaak. Elkeen het ’n rol gespeel in ons lewe.

Selfs die vreemdeling wat oor ons pad gestrompel het, het ons soms anders gelaat …

Onesiforus was een van die ouens wat ook ’n verskil in Paulus se lewe gemaak het. Hy is baie dankbaar vir hom en daarom spreek hy die seën oor hom uit. 18… Mag die Here vir hom baie goed wees wanneer Hy weer kom.

En skielik oorval die dankbaarheid my. Ek kan nie anders as om vir God dankie te sê vir elkeen van die arms en sagte hande wat God om elke hoek en draai van my lewe kom neersit het nie. Sommige dalk net een keer. Ander aanmekaar. Ek is wie ek is omdat God my paaie laat kruis het met ander.

Maar meer nog. Ek wil dankie sê vir elke mens wat my pad gekruis het, want ek is anders. Ek kon leer. Ek kon oefen. Ek kon sien. Ek kon naboots. Ek kon val. Ek kon opstaan. En ek kon weer vir ander ’n arm en ’n sagte hand wees.

Dankie vir jou!

Daarom vra ek ook vandag: “Mag God vir jou baie goed wees. Nou, môre en al die dae daarna!”

Teks
2 Tim 1:13-18

Om oor na te dink
Watter mense het ’n rol in jou lewe gespeel?
Wie speel nou ’n rol in jou lewe?
Het jy al vir hulle dankie gesê?

Gebed
Here, ek wil vandag vir U dankie sê vir …… . Wys my hoe ek my dankbaarheid sigbaar aan hom/haar kan bewys. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 30 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *