Gebakte appelkoos-kaaskoek

Rohanja
Hierdie is ‘n resep van Ina Paarman en is, soos elkeen van haar resepte, ‘n treffer.

Kors:
300 ml gemaalde amandels
45 ml sagte botter
30 ml suiker

Appelkoossous:
125 ml droë appelkose
190 ml water
45 ml suiker
60 ml sjerrie
5 ml gerasperde lemoenskil

Vulsel:
250 ml appelkoossous (sien metode)
2 houers geroomde maaskaas
45 ml mielieblom
60 ml koekmeelblom
2 ml vanieljegeursel
180 ml suiker
fyngerasperde skil van ½ suurlemoen
2 ekstragroot eiers
250 ml room, geklop
125 ml dik natuurlike joghurt

Metode Kors
Meng die bestanddele vir die kors saam en druk dit op die bodem van ‘n losboompan van 24 cm vas. Verkoel tot benodig.

Metode appelkoossous:
Verhit die appelkose en water tot kookpunt en laat prut liggies tot die vrugte plomp en sag is. Voeg die suiker by en roer om op te los. Puree die mengsel tot ‘n sous. Voeg die sjerrie en gerasperde skil by. Hou eenkant.

Metode Vulsel
Voorverhit die oond tot 180 °C. Klits die maaskaas, mielieblom, koekmeelblom, vanieljegeursel, suiker en suurlemoenskil saam. Voeg die eiers een vir een by en klits goed ná elke byvoeging. Vou die room en joghurt in. Skep die helfte van die mengsel uit in ‘n bakkie en roer 125 ml van die appelkoossous daarby. Skep lepelsvol van die appelkoosmengsel — afgewissel met lepelsvol van die skoon mengsel — op die kors en trek ‘n mes daardeur om ‘n marmer-effek te verkry.

Metode Bak
Sit die pan in ‘n groot oondroostersak (wat vir vleissnitte bedoel is) en knoop toe. Prik die bokant sodat stoom kan ontsnap. Plaas dit in ‘n oondbak wat halfpad met water gevul is en bak vir 20 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C en bak vir ‘n verdere 30 minute. Skakel die oond af en maak die oonddeur op ‘n skrefie oop. Laat die koek vir ‘n uur in die lou oond afkoel. Sit voor met die orige appelkoossous. Lewer 1 middelslag kaaskoek.

Nota
Groot krake op gebakte kaaskoek is waarskynlik as gevolg van die volgende: — Die mengsel is té veel geklits. — Die oondtemperatuur was te hoog. — Die koek is te lank gebak. — Die koek is te vinnig afgekoel (dit moet altyd in die oond met die deur half-oop afgekoel word. Sien resep langsaan).

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 153 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *