Gewortel vir die storms

Gewortel vir die storms
Hallo Frik

Dis winter in die Kaap en die wind waai woes. Die Kaap doen sy naam gestand: Die Kaap van storms. So deur die nag word ’n mens wakker gemaak deur die wind wat ruk-ruk sy ding doen, maar is te dankbaar vir die water wat val. Ons sal maar môre kyk wat die skade is.

Op die gholfbaan lyk dit maar woes. Die mooi en groot lang bome lê die een na die ander omgewaai. Ai, dit was seker ’n sterk rukwind wat daar deurgekom het. Nee, vertel die een ou. Dis die bome se wortelstelsels wat te lig in die broek was om die groot boom staande te hou.

Hy verduidelik dat ’n boom nodig het om swaar te trek. As die boom nie genoeg water kry nie, wurm hy sy wortels al hoe dieper in die aarde af totdat hy by water uitkom. Dan word die wortels al hoe dikker om ’n lekker dik pyp te word om water na die res van die boomfabriek tot in die blare te vervoer.

Die wortels het egter ’n tweede doel. Dit vorm die fondament. Dit suig in die grond vas. As die winde daar bo teen die takke druk, gryp die wortels die grond vas en aan die grond kan die wind niks doen nie.

Die bome op die gholfbaan het dit te maklik gekry. Hulle water is elke dag na hulle toe aangedra. Hulle wortels hoef nie na water te gaan soek het nie. Dit het net so ’n bossie onder die grond se oppervlak gemaak. Die dag toe die groot winde aangewaai kom, was die fondasie te lig in die broek met katastrofiese gevolge.

In die wêreld daar buite is daar maar kort-kort ’n rukwind wat aan ons takke kom pluk en as ons wortels nie diep gegrond is nie, is daar perde.

Baie keer wil ons al ons speelgoed uit die kot gooi omdat ons swaarkry, maar ons moet besef dat dit juis die tyd is wanneer ons wortels dieper groei. Ons moet weet dis juis die tyd wanneer ons wortels dieper delf en soek na water, lewende water. Ons moet weet dat dit ’n groeigeleentheid is sodat ons sterker kan word vir die aanvalle wat sekerlik weer een of ander tyd ’n draai gaan kom gooi.

En waarin moet ons groei? 1My liewe seun, al die goeie dinge wat God jou so onverdiend gee omdat jy ’n Christen is, moet jou motiveer en sterk laat staan.

Ons wortels moet diep groei in die genade wat ons so onverdiend uit God se hande ontvang. Ons moet weet dat Christus se genade ’n dik straal is wat sterk loop en nooit sal ophou vloei vir ons wat Hom liefhet nie. Hierdie genade is onskuifbaar en onveranderlik.

Wanneer die winde erg waai en sommige ons wil probeer wegrokkel deur te sê dat God nie bestaan nie, moet ons met alles in ons bly glo in God se genade. Hoor hoe mooi sê Gill (e-Sword) dit:

To be strong in it, is to preach it boldly, to defend it bravely, and courageously oppose every error and heresy, and every abettor thereof; and it also becomes every believer to hold it fast, stand fast in it, abide by it, and earnestly contend for it …

Ons geloof moet in Christus geanker wees. Ons moet vasstaan in die wete dat Jesus vir ons gesterf het aan die kruis. Ons moet sorg dat God se Woord ons vorm. Ons moet drink van die hemelse water uit die goddelike put. Dan kan die storms maar kom. Hulle sal ons nie omwaai nie.

Teks
2 Tim 2:1-7

Om oor na te dink
Waar waai jou storms?
Hoe diep is jy gewortel?
Wat nou?

Gebed
Here, U Woord leer my hoe om sterk te staan in die storms van die lewe. Dankie vir die krag wat ek van U ontvang om sterk te wees, al voel ek swak. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 35 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *