As swaarkry opdaag

As swaarkry opdaag
Hallo Frik

Kom ons val met ’n paar moeilike vrae by die deur in:

  • Hoeveel pyn is jy bereid om te vat vir jou geloof?
  • Tot watter punt is jy bereid dat jy gemartel word vir jou geloof?
  • Sal jy sterf vir jou geloof?
  • Is jy bereid om jou kinders en geliefdes se dood te aanskou vir jou geloof?

Sjoe, dis moeilike vrae en ek is huiwerig om ’n antwoord te waag, want sê nou maar net ek kom een of ander tyd wél voor so ’n kruispad in my lewe?

Daarom kry ek al hoe meer waardering en respek vir Paulus en al die ander voor en na hom wat ter wille van die evangelie gely het.

Kyk net hierdie wonderlike getuienis van Paulus se lewe. Hy het nou wraggies ge-practice what he preached10Daarom gee ek nie om om swaar te kry nie. Ek doen dit ter wille van die mense wat God gekies het. So kan hulle saak met God ook reg wees omdat hulle Jesus s’n is en kan hulle voel hoe wonderlik dit is om ’n Christen te wees.

As ’n mens só ’n getuienis lees, voel jy sommer sleg omdat jy nie hierdie tipe swaarkry ken nie. Nêrens in ons lewens is daar sprake van hierdie vlak van swaarkry nie. Ons is deel van ’n wonderlike geloofsgemeenskap waar ons oop en bloot vir God kan aanbid. Niemand kyk ons skeef aan wanneer ons oop en bloot met ons netjiese klere na ’n gebou ry om kliphard God se lof te besing nie.

Ons hoef nie sleg te voel hieroor nie. Sommige word geroep om vir hulle geloof te ly. Ons is geroep op ’n ander plek in ’n ander tyd. Eintlik moet ons vir God baie dankie sê dat ons nie vervolg word nie.

Tog moet die verhaal oor Paulus se lyding en die manier hoe hy vasklou aan sy opdrag en niks toelaat om in sy pad te staan nie, vir ons ’n aansporing wees. Ons moenie tevrede wees met ’n gemiddelde of afgewaterde geloof nie. Want wie sal in ieder geval na so ’n geloof wil kyk en dit ook wil besit?

Paulus se geloof wat vasstaan te midde van swaarkry is ’n aansporing vir ander gelowiges om aan te hou en te bly glo. Gemiddelde of afgewaterde geloof trek niemand aan nie. Inteendeel, dit stoot mense eerder weg van God af.

Paulus is geroep om die evangelie uit te dra, die wêreld in. Hy doen die werk baie suksesvol en mense word deur sy geloof aangespoor om ook te glo. Ons elkeen se roeping is presies dieselfde, al ly ons nie. God dank!

Die probleem is egter dat wanneer dit goed gaan, ons eintlik nie meer vir God nodig het nie. Of só dink ons. Ons dink ons kom eintlik goed op ons eie reg en dan sluip ons geloof by die agterdeur uit.

En die bose is heel tevrede.

Daarom moet die swaarkry van Paulus en al die ander vir ons ’n aansporing wees om seker te maak dat ons geloof sterk is. Dan kan dit ’n aansporing wees vir ander om ook in God te glo.

As swaarkry sy opwagting by die voordeur maak, is ons gereed en sterk genoeg om saam daarteen op te staan.

Teks
2 Tim 2:8-13

Om oor na te dink
Hoeveel diepte het jou geloof?
Sal ander God volg as gevolg van jou geloof?
Hoe anders dan?

Gebed
Jesus, U het U lewe neergelê vir sondaars soos ek. Ek kan nie dieselfde doen in my eie krag nie. Mense en my omstandighede maak dit dikwels moeilik vir my om U voorbeeld te volg. Ek is bereid om te probeer, met U hand in myne. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 27 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *