’n Lewe wat ander lei

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

’n Lewe wat ander lei
Hallo Frik

Ek hou daarvan om in dinge te krap, al het ek nie ’n idee wat alles daar binne aangaan nie. Ek onthou nog daar op die plaas het ’n ou rotavator gestaan. Die masjien is agter ’n trekker gehak en het die grond baie netjies omgedolwe.

Eendag toe ons weer sukkel om deur die werk te kom, besluit ek om die masjien te takel en te kyk of ek hom nie weer aan die loop kan kry nie. Ek bel net daar die agente en hulle stuur vir my die handleiding. Met die prentjie onder die blad begin ek die skroewe en moere losdraai. Ek sien presies waar die fout lê, bestel die parte en sit al die ratte en kettings en goeters terug. Die volgende dag het ons nog ’n werkende rotavator en die rye tussen die wingerde is in ’n japtrap netjies omgedolwe.

Ek moet bieg, as dit nie was vir die duidelike prentjie van hoe alles in mekaar steek nie, sou ek seker nou nog gesukkel het om uit te vind hoe alles werk. En as ek dit uiteindelik in mekaar gekry het, sou ek seker met ’n hoop parte na die tyd gesit het wat ek nie kon terugkry nie.

Ek staan baie keer verstom as mense sê hulle weet nie lekker wat dit beteken om ’n kind van God te wees en hoe hulle vandag in die wêreld as Christene moet lewe nie. Ons het mos die Woord van God. Dit is vir ons soos ’n handleiding om presies te wys hoe ons moet optree. Amper soos die handleiding van die rotavator.

Kyk net hoe prakties raak Paulus nou weer hier: 25… hy moet liewer gaaf wees met almal. Hy moet liewer ’n goeie onderwyser van God se dinge wees en hom nie vererg as ander iets verkeerds teen hom doen nie. As ander met hom wil stry oor wat God sê, moet hy hulle mooi op die regte pad help. Dit kan wees dat God hulle hulle foute sal laat insien sodat hulle van opinie verander en dan aan die kant van die waarheid sal kom staan. 26Hulle sal besef dat hulle op die verkeerde pad was. Hulle sal die boeie breek waarmee Satan hulle geestelik gedwing het om net te doen wat hy wou gehad het.

Hier is goeie leidrade hoe ons deur die lewe moet stap om sodoende ’n groot verskil te maak. Dis soos Jo Black wat met sy Be That Guy/Girl uitreike die kinders wil leer om ’n mens te wees wat respek het vir ander en hoe om met integriteit deur die lewe te loop.

Christene moet voor stap en gaaf wees, al is die ander mens onbeskof en negatief. Ons moet vir die ander wys wat dit beteken om om te gee. Ons moet ander ophelp as hulle geval het. En daar waar mense nie rigting het nie, moet ons hulle wys na die regte pad toe.

Lewe so dat ander ook vir God wil leer ken. Soos Estelle (skuilnaam) van haar man vertel:

Ek is ‘n weduwee, evangelis, 70 jaar oud en ‘n kind van God. My man is amper vyf jaar gelede met baie komplikasies na ‘n gewapende roof oorlede.

Maar deur sy lewe het hy Jesus geleef. Sy personeel het met sy afsterwe gesê sy lewe het vertel wie sy Koning is. Nou die dag kry iemand my en vra hoe gaan dit met hom. Geskok moes hul hoor hy is by Jesus en haar woorde is: “Weet jy dat hy ‘n hart van goud gehad het. Jy kon altyd Jesus in hom sien”. 

Na sewe jaar wat hulle hom laas gesien het, verheerlik sy lewe nog steeds vir God.

Wat ’n getuienis! Mag ons God se Woord bestudeer. Mag ons Sy handleiding vir ons bestudeer en deel maak van ons, sodat ons op die regte pad is en mag ons lewens ander na Jesus lei. Kom ons probeer dit vandag!

Teks
2 Tim 2:20-26

Om oor na te dink
Waar in jou lewe moet jy timmer?
Bestee jy genoeg tyd met God se Woord?
Wie om jou het leiding nodig?

Gebed
Here, dankie vir U Woord wat my leer en lei om op die regte manier te praat en op te tree. Ek wil graag U voorbeeld volg sodat ek ook ’n voorbeeld vir ander kan wees. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 14 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *