Stilbly is ook ’n antwoord

Stilbly is ook ’n antwoord
Hallo Frik

Ek kry nogal baie vrae oor baie onderwerpe in die Bybel. Hoeveel water is nodig om gedoop te word? Hoe gaan ons lyk as ons eendag van die tydelike oorstap na die ewige? Is dans sonde? Kan ek die of daai prentjie op my lyf laat tatoeëer? Hoe is God betrokke by die seer en die swaar van die lewe?

En dis reg dat ons sekerheid kry in dit wat ons glo. Dis reg dat ons mooi verstaan wat ons geloof in God behels. Wat ons egter nie moet toelaat nie, is dat ons betrokke raak met mense wat nie die waarheid beet het nie en ons wil oorreed om soos hulle te glo.

Daar loop baie mense rond wat valse waarhede verkoop en baie vurig daaroor kan raak. Soms is dit beter om eerder jou standpunt vir jouself te hou, want om in ’n argument met so ’n persoon betrokke te raak, is soos om jou diamante vir die varke te gooi. Daar sal niks positief uitkom nie.

Selfs die Bybel waarsku ons daarteen: 23Moenie in belaglike argumente betrokke raak en met mekaar sit en stry nie, want dit sal net maak dat julle aan die baklei raak.

Ons moet seker maak dat ons weet waarin ons glo. Wanneer iemand met ’n klomp leë waarhede na ons toe kom, moet ons kan onderskei tussen wat waar is en wat sommer eenvoudig net bog is.

En dis die probleem. Ons word maklik heen en weer in ons geloof geswaai, omdat ons nie seker is van dit waarin ons glo nie. Ons hardloop agter elke liewe prediker aan, omdat ons glo hulle is reg. Maar is hulle reg? Is hulle woorde in lyn met die woorde van die Bybel?

Dit is elkeen van ons se verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie agter vals leraars aanstap nie. Ons kan nie eendag sê dat dit nie ons skuld is omdat ons so skeef geglo het, want ons het agter die of daai leier aangestap nie.

As ek sien my leier is besig om my na ’n afgrond te lei, gaan ek êrens tot my sinne kom en eenvoudig ’n ander pad stap. Ek gaan nie toelaat dat hy my oor ’n afgrond lei en so my lewe verloor nie.

Dieselfde met die waarhede waarin ons glo. Ons moet self seker maak in die Woord van God. Ons moet weet wat is reg en wat is verkeerd. Ons moet kan onderskei wanneer iemand in lyn met God se waarhede praat of wanneer hulle besig is met bog. En die inligting kry ons in God se Woord. As ons nie ons neuse elke dag in God se Woord hou nie, gaan iemand anders ons aan ons neuse lei.

Wees verstandig. Wees wys. Al wil jy soms so graag betrokke raak om ander die waarheid te wys, moet ’n mens besef dat dit soms eenvoudig nie gaan help. Soms moet jy jou sinne kortknip of selfs nie eers jou mond oopmaak nie. Soms moet jy tjoepstil bly en die stof van jou voete skud.

Dis goed om te redeneer, want ons kan leer by mekaar en mekaar help om nader aan die waarheid te kom. Maar soms moet ons weet dat as die omgewing nie vriendelik genoeg is nie, die resultaat baie negatief kan wees en die uiteinde ’n ongewensde bakleiery. Dan moet ons eerder ons mond hou en ons woorde tel en dit eintlik net los.

Stilbly is mos ook ’n antwoord.

Teks
2 Tim 2:20-26

Om oor na te dink
Het jy die wysheid?
Waar moet jy praat?
Waar moet jy eerder stilbly?

Gebed
Here, dis nie altyd maklik om stil te bly nie. Dis nie maklik om te weet wanneer om stil te bly en wanneer om op te staan vir dit waarin ek glo nie. Gee my wysheid en help my om te onderskei. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 52 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *