’n Stewige fondasie

GOD SE WOORD IN VANDAG SE WOORDE

’n Stewige fondasie
Hallo Frik

In teenstelling met die donker prentjie wat Paulus in die voorafgaande skilder, gee hy ’n bietjie raad uit sy eie lewe wat Timoteus ook moet probeer toepas. Paulus het dié manier van lewe van God ontvang en is vir seker vandag ook vir my en jou ’n rigtingwyser om reg te leef:

10Timoteus, jy ken my baie goed. Jy weet alles wat ek vir mense vertel van God en Christus. Jy weet hoe ek leef, wat ek van die lewe wil hê, hoe ek op Jesus vertrou en hoeveel tyd ek vir ander mense het. Jy ken ook my liefde vir ander en weet hoe geduldig ek met mense kan wees.

Die 1983-vertaling breek dit eenvoudig in enkel woorde op: in leer, lewenswandel en lewensdoel, in geloof, geduld, liefde en volharding. Elke woord ’n preek op sy eie. Die eerste een is leer of dogma.

Paulus het presies geweet uit watter hoek hy slaan. Hy was nie bang om die kerk aan te vat nie. Hy het selfs teen die regering van die tyd opgestaan. Hy was nie bang om sy lewe op die spel te plaas vir dit waarin hy glo nie, want Hy het geweet dit is die enigste waarheid.

Hy het dit van God ontvang. Geen swaarkry, geen tronk, geen koning of mag sal dit regkry om hom van plan te laat verander nie. Sy fondament was stewig en vas. Sy geloofshuis kon sterk staan teen die woeste winde. Hy het met alles geglo in die Goddelike leerstellings en dit altyd met passie uitgeleef.

Ek vermoed ons bene bewe so dikwels onder druk, omdat ons nie presies weet waarin ons glo nie. Ons hardloop agter enige Jan Rap en sy tjommies aan en glo wat hulle sê. Maar is dit hulle woorde of is dit God se woorde? Ons luister graag na mense wat die woorde praat wat ons wil hoor.

Dit is nie noodwendig verkeerd nie, maar ons moet seker maak dat ons leiers se fondasie op God se fondasie gebou is. Dit bly ons verantwoordelikheid om seker te maak dat ons ons ore uitleen aan die regte stemme.

Daar is baie leringe in God se Woord. Elkeen van hulle moet ons inbou in ons fondasie. Daarvoor moet ons natuurlik tyd in die Woord deurbring. Wanneer ons dag vir dag daardeur stap, begin dit alles sin maak. Met verstaan kom sekerheid en word ons fondasie al hoe sterker.

Dan kan die winde, die uitdagings en swaarkry maar aangewaai kom. En al is dit nie maklik nie, kan ons staande bly. Nie omdat ons so goed is nie, maar omdat God ons fondasie is.

Mag God met Sy Gees ons help om gedurig ons fondasie stewig te maak.

Teks
2 Tim 3:10-13

Om oor na te dink
Hoe stewig is jou fondasie?
Leef jy wat jy glo?
Wat is daar wat moet verander?

Gebed
Here, U Woord gee vir my ’n stewige fondasie van hoe U wil hê ek moet leef. Help my om getrou te bly aan die leringe van U Woord sodat ek nie afdwaal van die waarheid nie. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 22 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *