Dis ’n gestoei, maar darem nie alleen nie

Dis ’n gestoei, maar darem nie alleen nie
Hallo Frik

Hoeveel keer het God se Woord ons nie al gewaarsku nie: 12Elkeen wat Jesus s’n is en wat lewe soos God van hom verwag, moet weet dat hy ook vervolg sal word. En dan nog die stuk eerlikheid by: Die rede is dat die slegte mense nie skielik beter gaan word nie.

As jy erns maak met die Here se werk, sal dit nie altyd voor die wind gaan nie. En nou voel ’n mens darem nie lekker hieroor nie, want sekerlik kan ons ’n bietjie voorkeur behandeling ontvang? Dink jy nie ook so nie?

Wel, as daar nou een ou is wat regtig sy bes gegee het vir God se dinge, dan is dit Paulus. Maar selfs hy kry nie ’n binnebaan nie. Inteendeel: 11Ook my seerkry en swaarkry ter wille van Jesus ken jy. Jy onthou mos nog wat met my in Antiogië, Ikonium en Listra gebeur het. Hoe het hulle my nie probeer seermaak en vervolg nie!

Paulus het werklik swaar gekry. Hy was ’n hele paar keer in doodsgevaar. Mense het hom geslaan, gevloek en op hom gespoeg. Hy is verneder en uitgestoot tot op die rant. Hy het werklik vir mense omgegee en wou ten koste van enige iets, selfs ten koste van homself mense help en hulle red van die ewige vuur.

Sou jy so vêr gegaan het soos Paulus?

Eintlik wil ’n mens hê dat die held van die Christendom darem net ’n paar voorregte sou ontvang. Eintlik, soos in ons flieks, wil ons hê dat Paulus darem so nou en dan by ’n oase kom om weer krag te skep vir die moeilike tyd wat voorlê. Hy verdien dan immers ’n bietjie gelyk pad. Maar dit is nie so nie. Dietrich Bonhoeffer, ’n Duitse teoloog, het gesê wanneer God jou roep, roep Hy jou om te kom sterf.

Is jy daartoe bereid? Sal jy ter wille van die evangelie en jou liefde vir Jesus deur al die dinge gaan waardeur Paulus gegaan het?

Op ons eie, nee. Op ons eie sal ons dit nie maak nie en sal ons seker met die eerste bultjie tou opgee en vir God verloën. Uit ons eie is ons te pap om enige windjie van voor te trotseer. Ons kan dit net nie self doen nie.

Gelukkig hoef ons dit nie op ons eie te doen nie. Hier is darem ook ’n stukkie troos en hulp vir die taak wat vir ons elkeen opgelê is: 11… Maar die Here self het daarvoor gesorg dat ek veilig uit al hierdie dinge gekom het.

Amper het ek nou mismoedig geword. Maar dankie tog dat ek dit nie uit my eie hoef te doen nie. Dankie tog dat God self vir my sorg. Dankie tog dat God my hand neem en my deur die obstruksies in my pad neem. God self neem my hand en stap saam met my die donker in.

Paulus het dit geweet en aan sy lyf gevoel. Hy kon in die tronk sit, want Hy het geweet dat God daar saam met hom was. Hy kon die seermaak van ander mense vat, want Hy het geweet dat daar nie ’n haar op sy kop sal roer as God dit nie so wil nie. Paulus het kans gesien vir enige pakkie wat voor in pad gesit is, want hy het geweet God sal hom in elkeen van hulle bystaan.

Dit is seker nie goeie nuus om te weet dat ons nie altyd die maklike pad het om deur die lewe te loop nie. Eintlik wil ons ons onderlip so effe opblaas en sê dit is onregverdig, maar kom ons maak tog maar vrede daarmee. God weet die beste. Hy weet dat ons nie lekker leer op die teerpaaie nie. Hy weet dat ons meer van die lewe leer op die grondpaaie. Hy weet dat ons oë eintlik eers vir ander mense oopgaan waar ons spoed gebreek word op die grondpad. Hy weet die beste.

Gelukkig weet ek en jy en Paulus dat ons die pad nooit alleen hoef te stap nie.

Teks
2 Tim 3:10-13

Om oor na te dink
Waar kry jy swaar?
Dra jy alleen?
Vertrou jy God om jou hierdeur te help?

Gebed
Onse Here, ek is nie so seker of ek altyd staande sal kan bly onder die druk nie. Soms is die dinge vir my net te veel en wankel my bene erg. Dankie vir die belofte dat ek nie alleen teen die lewe hoef op te staan nie. Daarom vra ek dat U my krag sal gee om deur die lewe te loop. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 17 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *