Draai of Braai

Draai of Braai
Hallo Frik

Ek kry ’n e-pos uit Nieu-Seeland waarin iemand my vra om kommentaar te lewer op ’n e-pos waarin die skrywer die lesers duidelik wys wat gaan gebeur met die mense wat nie erns met God maak in hulle lewe nie. En hy praat nie met ompad woorde nie.

Die skrywer het regtig die verlore mens op sy hart en kan dit nie aanskou dat die mense soos vlieë moet doodgaan en in die hel verbrand nie. Hy gebruik die verhaal wat Jesus vertel het van die onkruid wat bymekaargemaak en verbrand gaan word. Hy vertel van mense wat gaan klop aan die deur, maar Jesus wat van binne af gaan sê dat Hy hulle nie ken nie.

By die finale oordeel gaan sommige net nie saam nie. En so gebruik hy nog baie tekste en stories uit die Bybel om die mense tot stilstand en nadenke te ruk. So ’n regte gryp-voor-die-bors e-pos. Dit laat my dink aan die slagspreuk: Draai of braai!

In my e-pos terug aan die leser sê ek dat ek nie fout kan vind met die e-pos nie en dat ons meermale dié boodskap na buite moet kry.

Toe ek die e-pos klaar geskryf het, maak ek my Bybel oop en begin my gedeelte vir die dag lees. Ek het amper hardop gelag, want ek kon nie glo wat daar staan nie. Dit is presies waaroor die persoon se e-pos gegaan het en waarop ek kommentaar gelewer het. Die Here se tydsberekening is darem net elke keer presies op die regte tyd. Hoekom moes ek nou juis vandag op die persoon se e-pos reageer? Kyk net na die verse:

1Christus Jesus gaan as regter besluit wat eendag met die mense gaan gebeur, of hulle nog lewe en of hulle al dood is. Hy gaan weer kom en soos ’n koning kom heers. 2Met God en Jesus as getuie sê ek vir jou: vertel vir almal die boodskap van God. Jy moet altyd reg wees om dit te doen, maak nie saak wanneer nie. As ander ’n klomp onsin vertel, help hulle reg. As hulle nie wil luister nie, praat kwaai met hulle en as iemand moedeloos is, praat hom moed in. Wees geduldig terwyl jy mense stap vir stap help om God se dinge beter te verstaan.

Kan jy dit glo? Ek glo nie in toeval nie!

Partymaal help mooipraat nie altyd nie. Soms moet jy maar die voor-die-bors-gryp-metode gebruik. Partymaal moet jy maar raas. Soms moet jy so ernstig wees oor die vriend of familielid wat op die verkeerde pad is, dat jy dit reguit moet sê.

Maar die storie hou nie hier op nie. My vrou kom uit die kamer en ek wys haar hoe ongelooflik my pad met die Here die oggend was. Sy lees dit, kry trane in haar oë, storm na die kamer en kom met die Bybel in haar hande terug.

Sy stoei die afgelope tyd met die Here oor hoe sy die mense wat vir gebed vra moet antwoord. Sy wonder of sy net moet bemoedig en of sy ook die mense wat duidelik op die verkeerde pad is, moet reghelp.

En sy kry dieselfde boodskap: moenie doekies omdraai nie. Praat reguit. Ja, bid vir die mense, maar moenie die geleentheid laat verbygaan om mense aan te praat oor hulle verkeerde dade nie.

Sonder om te twyfel weet ek dat God vir ons almal laat weet dat ons nie moet stilbly nie. Met party sal mooipraat werk, maar met ander moet ons dalk ’n bietjie harder praat, selfs ernstig vermaan.

Teks
2 Tim 4:1-5

Om oor na te dink
Vir wie moet jy van God vertel?
Met wie moet jy ’n bietjie harder praat – selfs ernstig vermaan?
Vir wie moet jy bemoedig?

Gebed
Heilige Gees, help my om al meer op U stem ingestel te wees sodat ek kan weet wanneer U deur my wil praat. Gee my die moed om gehoorsaam te wees aan U stem. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 38 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *