Geloof in Jesus is oorgenoeg

Geloof in Jesus is oorgenoeg
Hallo Frik

’n Bouer vriend bel my en vertel ’n storie van ’n kontrakteur wat oor die jare vir hom werk by sy bouprojekte doen. Soos ek my vriend ken, deel hy graag die Evangelie met almal, sonder om dit aan hulle op te druk.

Na jare se getuienis van my vriend, sê die kontrakteur eendag dat hy wel glo dat daar ’n God is, maar hoe gaan jy nou te werk om Hom aan te neem? My vriend maak ’n afspraak met hom by die dorp se koffiewinkel by die koöperasie.

Hulle gesels lank. Dis vir die kontrakteur moeilik om te glo dat daar nie werke van sy kant nodig is nie. Dis vir hom moeilik om te glo dat Jesus klaar die straf vir sy sondes betaal het. Maar hy sê hy gaan dit probeer deel maak van sy lewe.

My vriend laai vir hom die Bybel op sy foon af. Toe hy gaan betaal, sien hy een van my boeke op die rak en koop dit sommer vir die kontrakteur. Nou het hy darem God se Woord op sy foon en ’n boek om te neem op sy nuwe pad.

Toe ek die foon neersit is ek effe bewoë. Ek is bewoë omdat my vriend sy opdrag deur die jare op sy manier uitgeleef het en dit vrugte afwerp. Ek is bewoë omdat nóg ’n skaap by God se kudde aangesluit het. Ek is bewoë om te dink dat ek ook op ’n manier ’n aandeel het in die man se pad vorentoe.

Maar meer nog slaan dit my hoe eenvoudig God dit vir ons gemaak het om te glo. Dit bevestig die woorde wat Paulus vir Timoteus skryf: 15Toe jy nog klein was, het jy al die Skrif gelees. Jy kan baie daaruit leer, soos hoe ’n mens se saak met God weer reggemaak kan word deur op Christus Jesus te vertrou.

Dis geloof in Christus wat jy nodig het. Dis al.

Dis hoekom dit so moeilik is vir die kontrakteur om te glo dat daar nie harde werk nodig is om jou saligheid te verdien nie. As ’n mens uit ’n agtergrond kom waar jy vir alles moet werk wat jy wil verdien, is dit vir seker moeilik om te glo in iets wat jy net so verniet ontvang.

Dit is ’n begrip wat eers by jou moet insink. Daarom is ek bly dat my vriend vir die kontrakteur die Bybel afgelaai het, want dis hier waar hy meer van God se hart sal leer verstaan. Stukkie vir stukkie sal die gordyne oopgetrek word en sal hy die liefde wat God vir mense het, raaksien.

Hier sal hy leer dat ons nie ons plek in die hemel in kan werk nie. Jesus se kruisdood is oorgenoeg. Geloof in Jesus en wat Hy vir ons aan die kruis bewerkstellig het, is oorgenoeg.

Uit hierdie eenvoudige ware verhaal besef ek maar net weer hoe belangrik dit is dat ons elke dag ordentlik in God se Woord stap. ’n Mens kan nie dieselfde bly as jy deur God se Woord wandel nie. Jou denke word vernuwe. Hier kap jy die moeilike vrae van die wêreld af en leer jy om weer soos ’n kind te glo.

Dalk is jy op ’n plek waar jy woes twyfel. Dis dalk nou die tyd dat jy weer die eenvoudige gebed bid waar jy vir Jesus sê dat jy in Hom glo en dat jy glo dat Sy sterwe aan die kruis genoeg was om die pak vir jou sondes te vat. Gaan lees die Woord van God: Jy kan baie daaruit leer!

En kom ons neem dit wat ons leer saam met ons deur die dag en deel dit met ander. Jy kan dalk, soos my vriend die kontrakteur gehelp het, iemand in jou wêreld help en so nog ’n lewe red!

Teks
2 Tim 3:13-16

Om oor na te dink
Glo jy dat Jesus se dood aan die kruis genoeg is vir jou?
Hoe lyk jou loop deur God se Woord?
Wat moet jy anders doen?

Gebed
Jesus, ek glo! Maak my geloof nog sterker soos wat ek die pad met U Heilige Gees stap. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 6 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *