Liefde is … om ’n stukkie van jouself te gee

Liefde is … om ’n stukkie van jouself te gee
Hallo Frik

Die sesde eienskap van ons geloofshuisie wat ons by Paulus en Timoteus kan leer, is seker die heel belangrikste – die liefde. Jesus het ons die grootste daad van liefde kom wys en dit is om as onskuldige vir die skuld van ander te kom sterf.

Dit is presies waar ons ook moet begin. Om liefde vrylik uit te deel moet ons eers van die eie ek in ons lewe ontslae raak. Die eie ek moet eers sterf, want dan eers kan ons gee, sonder om te vra wat is daarin vir my? Dan kan ons uitdeel, sonder om te kla oor die pyn om jou eie goed net so weg te gee. Dan kan ons onwillekeurig onsself opoffer sonder om iets terug te verwag.

Kobus maak ’n stukkie van sy hart oop:

Die lewe is so snaaks. Hoekom nou na soveel jare se saam swaarkry en deur dinge gaan en saamstaan en dan wil skei? Wat het geword van die belofte wat jy voor die kansel gemaak het?

My vrou het lupus en dit vat baie hard aan haar. Dit is ’n siekte wat nie herstel kan word nie, maar net in remissie gebring kan word. Dit laat baie snaakse dinge deur haar kop gaan.

Sy lees gereeld van mense wat skei en selfdood pleeg a.g.v. die siekte. Ek het vir haar gesê ons is al 31 jaar getroud en ken mekaar seker al 37 jaar. Daar is nie ’n manier hoe ek haar sal los om alleen deur hierdie tyd te gaan nie.

Ek het ’n belofte op ons troudag gemaak en sal by haar staan tot die dood ons skei. My oorlede ouers het my geleer om altyd ’n voorbeeld te stel vir ander mense.

Ek het ’n wonderlike seun wat November getroud is met die vriendin van sy lewe. Ons moet ’n voorbeeld vir hulle kan wees …

Liefde wat opoffer. Liefde wat gee. Liefde wat ’n stukkie van jouself gee.

En ongelukkig sien ons dit nie meer vandag nie. Nee, ons sien eerder liefde wat se draad te dun is en sodra dit iets van die self vra, breek dit en val die liefde aan skerwe.

Die wêreld, ons vriende, ons familie, ons kollegas, almal soek na mense om na op te kyk. Mense wie se voorbeeld hulle in die erg gebroke wêreld kan volg. Ons weet Jesus is die beste en grootste voorbeeld. Dis my en jou verantwoordelikheid om Sy liefde daar in die wêreld ten toon te gaan stel.

Is jy bereid om jouself te gee? Is jy bereid om soos Kobus ’n voorbeeld te wees en vas te klou, al kos dit so baie van hom? Is jy bereid om Jesus se opofferende liefde in die krom strate van die wêreld te gaan leef?

Dalk moet ons nie te vinnig antwoord nie, want dit is nie so maklik nie. Miskien is dit beter om eers rustig te gaan sit en die Heilige Gees te vra om jou te help met die antwoorde. Gelukkig sal Hy jou ook help om oor te gaan in doen.

Teks
2 Tim 3:10-13

Om oor na te dink
Is jy bereid om jouself te gee?
Is jy bereid om ’n voorbeeld te wees en vas te klou, al kos dit so baie van jou?
Is jy bereid om Jesus se opofferende liefde in die krom strate van die wêreld te gaan leef?

Gebed
Jesus, U was vir ons so ’n goeie voorbeeld van liefde wat net gee. Ja, selfs U lewe het U gegee. Ek is so dankbaar dat ek aan die ontvangkant van U opofferende liefde is. En juis daarom wil ek ook só ’n liefde in die wêreld gaan leef. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 11 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *