’n Lig en ’n lamp vir my voete

’n Lig en ’n lamp vir my voete
Hallo Frik

Om vandag die regte besluite by elke kruising te maak is nie maklik nie. Elke persoon het ’n ander idee oor wat jy moet maak en self voel dit vir jou enige van die vier rigtings is reg. Watter een neem jy? Watter een is reg? Ek wil nie ’n dag of drie se stap in die pad af wees, voordat ek besef dat ek verkeerd gedraai het nie.

Ek het ’n jaar of wat terug in Kruispad vertel van ’n ander dominee en ek wat in Tanzanië predikante gaan oplei het. Met die terugkomslag, tref ons toe ’n spesiale aanbod op die lughawe van twee biere vir die prys van een.

Hier en daar het ’n bietjie kritiek deurgekom, maar ook vrae. Eerlike ernstige vrae oor of ’n Christen alkohol mag gebruik, was daar ook. In my reaksie op dié vrae kon ek nie sommerso ’n antwoord gee nie.

Ek het teruggedink aan die familie daar onder Helderberg wat uit geloofsoortuiging al hulle wingerde uitgetrek het en die res van hulle lewe met groente geboer het.

Maar dan so ’n entjie af, nader na die see se kant toe, was oom Koos Bredell. Oom Koos het my alles geleer oor wingerdbou en wynmaak en hy het my gehelp om die eerste 10 werksjare van my lewe ’n suksesvolle wingerdboukundige te wees. Hy was ’n diep gelowige.

Daarom kon ek nie ’n reg of verkeerd antwoord gee vir die mense wat wou weet oor drink of nie drink nie. Elkeen moet self seker maak wat die Here vir hom of haar wil hê.

Dan voel mense dadelik onseker en sê hulle weet nie wat hulle moet maak nie. Hulle het nie genoeg kennis nie. Waar begin ’n mens nou om na antwoorde te soek? Dit is vir sulke kruispaaie in ons lewe wat ons die Woord van God nodig het: 16Die hele Skrif kom direk van God af. Daaruit kan ons so baie leer. Dit help ons om te wys waar mense die pad byster raak en om hulle weer reg te help. Uit die Skrif kan ons ook vir mense wys hoe God wil hê hulle moet leef.

In ’n klompie bladsye, binne een boek, is daar ’n ontsaglike klomp wysheid en inligting wat direk van God af kom. Dit is binne ons bereik. Dit lê in ons huise rond, baie daarvan, maar om die een of ander rede het ons ’n keuse gemaak om dit eenvoudig net nie te lees nie.

Wanneer ons die Bybel lees, begin ons God ken en ontstaan daar ’n verhouding. Ons leer ons onsself ken en hoe om die lewe daar buite te gaan leef. Op ’n manier is dit soos ’n instruksie-boek.

Wanneer ons ’n nuwe ding aankoop is ons egter nie lief om die instruksie-boekies te lees nie. Ons probeer gewoonlik net eers die ding aan die gang kry en sukkel-sukkel dan maar voort om agter te kom hoe alles werk. Ons leer egter net gedeeltelik en gebruik die nuwe goed nie optimaal nie.

Dit is presies wat God se Woord is: dit is ’n instruksie-boek! Dit is ’n manual wat jou vertel hoe jy moet optree, wat die beste vir jou is, hoe jy jouself moet versorg, en nog baie meer. Ja, daar staan nie altyd presiese antwoorde op alle vrae nie, maar as jy die Bybel bestudeer, verander jy om meer in lyn te kom met God se idee vir en van jou. Met die in-lyn-stap met God se idee vir jou lewe en in die worsteling met die Woord van God, spring die antwoorde op die vrae op.

En die gevolg dan? 17Op dié manier sal iemand wat God s’n is, weet wat God van hom verwag en só reg wees om behoorlik vir God te werk.

Teks
2 Tim 3:13-17

Om oor na te dink
Glo jy dat God se Woord jou met probleme in jou lewe kan help?
Lees jy die Bybel genoeg, sodat God jou deur sy Gees kan lei?
Moet jy nie dalk ’n afspraak of ’n wilsbesluit maak om elke dag by die Skrif uit te kom nie

Gebed
Vader, U het vir ons so ’n goeie “instruksieboek” nagelaat. Dankie dat U vir ons so lief is dat U ons nooit alleen laat nie. U het selfs daaraan gedink om ons deur die lewe met U Bybelboek te help. Help my om daagliks daarin te wandel. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 15 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *