Wat kry jy vanaand by die prysuitdeling?

Wat kry jy vanaand by die prysuitdeling?
Hallo Frik

Ek wonder of Paulus geweet het wanneer hy doodgemaak gaan word. Ons weet nie presies wanneer en waar dit gebeur het nie. Wat ons wel weet, is dat dit in daardie tyd baie sleg gegaan het met die Christene. Die Christendom was verban en Christene is voor die voet doodgemaak. Dit blyk dat Paulus ongeveer 64 n.C. gehang is. Alhoewel Paulus nie presies geweet het wanneer hy doodgemaak sou word nie, het hy ’n sterk vermoede gehad dat die tyd nou naby is.

6My tyd word nou ook min. Ek het nie meer lank om te lewe nie, dan gaan my lewe ’n offer vir God word. 7As jy die lewe met ’n wedloop kan vergelyk, kan jy sê dat ek daardie wedloop goed gehardloop het. Ek het dit klaargemaak en tot aan die einde het ek op God bly vertrou. Ek het ’n prys vir die wedloop gewen.

Op ’n manier is dit amper ’n versugting. Miskien druk ek my nou verkeerd uit, maar verlang Paulus nie amper hier na sy vertrek na die hemel nie? Dit is asof hy nou genoeg in die tronk was. Die winterkoue het sy liggaam opgevreet en op ’n manier is hy moeg gesukkel. Hy is nou lus om die gebroke wêreld agter te laat en te ruil vir die wonderlike rus by God.

Verlang ons ook na die hemel, of bly ons te lekker hier op die aarde? Baie maal verkies ons om nie te praat oor wanneer die Here ons kom haal nie, want ons voete is nog te lekker hier op die aarde vasgewortel. Eintlik het ons nie nou tyd om na die hemel te gaan nie, want ons is eenvoudig net te besig hier op aarde. Tog kan ons nou hier opstaan, ’n kramp op ons hart voel en as ons ons oë weer oopmaak, is dit so.

As jy so terugkyk oor jou lewe, waar trek jy in die resies? As jy uiteindelik deur die wenpale skiet, het jy gewen? As jy op die podium staan, watter prys gaan jy kry? Of gaan jy enigsins die podium haal?

Dit is nie maklike vrae nie, maar een of ander tyd sal ons die vrae moet beantwoord en hopelik is dit nie te laat nie. Ja, ons weet dat ons elkeen reeds die prys van verlossing ontvang het. Ja, ons elkeen het ’n gratis “kom uit die tronk”-kaartjie ontvang, omdat Jesus aan die kruis gesterf het. Maar eintlik het die prys ons toegang gegee om deel te neem aan die resies op pad na die hemel toe.

Kyk, nè, ek is mos glad nie gebou vir draf of so nie, maar my vrou is nou weer mal daaroor. Sy het ’n halfmarathon hier in Stellenbosch gehardloop en kort daarna doen sy weer 12 km hier by Neil Ellis wynplaas. Sy verstaan die beeld van ’n wedloop beter en ek leer by haar van bulte en afdraandes en uithou en aanmoedig en vreemdes wat mekaar help en lag. Ja, hulle hardloop nie vir ’n plek nie, maar hulle prys is om klaar te maak.

Paulus is nie seker wanneer hy gaan nie, maar as hy gaan, weet Hy verseker dat hy ’n prys gaan kry. Hy weet dit, want hy glo in God en Hy weet dat God die pryse regverdig sal uitdeel. Dit sal met almal gebeur.

Gaan dit met jou ook gebeur?

Teks
2 Tim 4:6-8

Om oor na te dink
Waar trek jy in die resies?
Gaan jy die podium haal?
As jy op die podium staan, watter prys gaan jy kry?

Gebed
Here, ek wil graag die wedloop op so ’n manier hardloop dat ek ook ’n prys van U sal ontvang. Help my om elke dag getrou en gehoorsaam aan U te bly. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 10 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *