God help! Selfs deur Noot vir Noot

 

God help! Selfs deur Noot vir Noot
Hallo Frik

Aha! Die beste nuus ooit. Ek het dit só nodig. Ons almal het dit só nodig. Al laat ons vriende ons in die steek, al daag ons familie in die tyd van krisis eenvoudig net nie op nie, is daar Iemand wat altyd by jou is. 17Maar die Here het my nie alleen gelos nie.

Elzette se ware storie oor hoe God haar nooit alleen gelaat het nie en op ’n baie spesiale manier versorg het, het my aangegryp:

Ek vertel graag my Noot vir Noot-storie.

Dis al ’n hele paar jaar gelede wat ek vir oudisies Auckland Park toe gegaan het. Toe ek nie binne enkele weke van die produksiespan hoor nie, het ek aangeneem ek het nie die paal gehaal nie.

Dit was eers ’n paar maande later dat Elsa my gekontak het en gesê het dat ek wel gekies is om deel te neem. Ek was uit my nate van opgewondenheid! Die opname van die program sou egter eers oor ’n paar maande plaasvind, en hulle sou my weer kontak.

Ek moet hier noem dat toe ek vir die oudisie gegaan het, beide ek en my man gewerk het en daar was geen donker wolk op die horison wat werkloosheid of verlies voorspel het nie. Ons was ’n alledaagse, middel-inkomste gesin wat darem elke maand die finansiële paal net-net gehaal het. 

Die tyd wat verloop het tussen die oudisie en die opname van die program was meer as twee jaar, en in daardie twee jaar het ons gesin se finansiële posisie drasties verander. Beide ek en my man is afgelê en teen die tyd van die opname was ons finansies in ’n hoek, soveel so dat ons die volgende verbandpaaiement nie sou kon betaal nie.

Met die eerste opname het ek die program gewen en ongeveer R37 000 huis toe geneem! Die tweede program is kort daarna opgeneem en alhoewel ek sommer eerste uitgeval het, het ek nog steeds meer as R5 000 gewen.

In daardie dae het R42 000 vir ons gesin drie maande se uitgawes gedek – drie maande wat die verskil gemaak het tussen sink en swem! In daardie drie maande het ek en my man beide uiteindelik werk gekry, en nie net kon ons ons agterstallige skuld vinnig inhaal nie, ons kon ’n huis in ’n beter buurt naby die kinders se skole koop en vele ander verbeterings in ons lewens maak.

En soos die Engelse sê: “here’s the kicker”: Toe die eerste program uitgesaai word en ons dit sit en kyk, was daar vrae wat ek beantwoord het gedurende die opname wat ek nie kon beantwoord toe ons die program gekyk het nie! Ek was eers uit die veld geslaan en ‘n bietjie verwilderd, totdat ek besef het Wie daardie antwoorde in my mond gelê het. Op die regte tyd!

Dit is wie ons God is. En dit is maar een voorbeeld uit baie in my lewe wat ek kan aanhaal om te staaf: God sal jou NOOIT drop nie. GLO net. BID en VRA vir Sy bystand. GLO. En sê sommer terselfdertyd dankie dat Hy jou (alweer) sal dra in en deur elke krisis in jou lewe. Soms lyk dit of Hy dit nie gaan doen nie, maar op die regte tyd maak Hy die regte deur oop.

En so is daar baie stories van God wat ons nooit alleen los nie. As dit voel alles en almal het ons weggestoot, vergeet en net so gelos, moet ons mooi om ons kyk. God is daar. God is daar! Hy sal ons nooit alleen los nie!

Teks
2 Tim 4:9-18

Om oor na te dink
Waar staan jy alleen?
Hoe lyk jou krisis?
Wat moet jy doen om vir God daar raak te sien?

Gebed
Here, ek staan alleen. Ek kan nie meer nie. Openbaar Uself aan my. Wys my wat ek moet doen. Hou my hand styf vas. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 22 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *