’n Ou wat werk vir die Here doen

’n Ou wat werk vir die Here doen
Hallo Frik

’n Vriend deel met my e-posgesprekke met ’n kliënt aan wie hy ’n naaimasjien verkoop het:

Goeie middag

Ek wil net vir jou baie, baie dankie sê vir die wonderlike masjien. Ek was nog nooit so gelukkig met ‘n masjien soos met die een wat ek nou het nie. Baie dankie dat jy bereid was om na my te luister en ag te slaan op wat ek te sê gehad het. Ek kan nie glo dat daar nog sulke mense is wat bereid is om te luister en te help nie. 

Baie dankie vir alles.

Mev. K

 

Middag mev. K

Dankie vir u kosbare skrywe. Alle eer vir dit wat gedoen is, kom die Heer toe – ek het bloot, volgens Sy opdrag, Sy liefde met u gedeel. Die feit dat u nou gelukkig en tevrede is, is my bonus. Geniet elke steek wat u werk – u het nou ‘n puik masjien.

Opregte groete

D

 Goeie middag

Ek gaan vra dat jy net so bietjie moet “bear” met die brief, want ek het vandag rêrig ‘n “wake-up call” gekry met jou e-pos.

My pappie is oorlede toe ek baie jonk was en my mammie het nooit weer getrou nie. Ek is ‘n laatlammetjie en sy het my gehad toe sy 41jr oud was en my oudste broer hulle eersteling verwag het. My ander broer is 17jr ouer as ek.

My mammie het my baie Christelik grootgemaak, maar êrens langs die weg het ek als verloor. Ek het beide my broers verloor in ‘n kwessie van 6 maande en my mammie op die ouderdom van 91. Ek was baie sinies oor godsdiens, want hoe kan ek deur al die eensaamheid gaan? Ek kon nie verstaan wat ek verkeerd gedoen het nie. 

My ma het altyd gesê die Here doen alles met ‘n doel en ek wou dit nooit glo nie tot ek jou e-pos vandag ontvang het en ek nou eers besef dat daar tog goed in die lewe kan wees. 

BAIE DANKIE DAT JY MY OË OOPGEMAAK HET, DAT EK WEER GAAN BEGIN GLO IN DIE HERE EN EK WEER GAAN BEGIN OM MY KNIEË VOOR HOM TE BUIG. Jy sal nooit weet wat dit rêrig vir my as mens beteken het nie.

Ek is so dankbaar bly dat ons paaie kon kruis.

Groete

Mev. K

’n Verkoopsman wat net sy werk gedoen het, soos die Here van hom verwag. En tog was die impak groot.

My vriend was soos Markus, ’n ou wat baie vir die werk van die Here doen: 11… As jy kom, moet jy ook vir Markus saambring. Hy kan baie vir my en vir die werk van die Here doen.

En jy?

Teks
2 Tim 4:9-18

Om oor na te dink
Hoe lyk jou werk?
Pas die Here daarin?
Sien ander dit soms raak?

Gebed
Here, help my op só te leef dat my manier van doen ook vir ander aan U laat dink. Amen.

Shalom
Gerjo Ben
Ns. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit vir hom/haar forward.

Jy kan ook info@kruispad.com in die Cc blokkie sit en dan sal ons hulle op die poslys plaas.

Print Friendly, PDF & Email
(Visited 21 times, 1 visits today)
Advertisements

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *