Trifle

Bestanddele
1 sponskoek
500ml ultramel vla
fyn neute
250ml room
sjerrie na smaak
1 blik ingelegde perskes
2 x rooi jelllie
2 x groen jellie

Metode
Los jellie op in die yskas die vorige aand. Krap jellie met vurk. Begin met die koek. Gooi bietjie sjerrie oor die koek. Pak dan ‘n laag perskes, ‘n laag jellie, ‘n laag neute, laag vla en dan weer koek, jellie, neute en vla. Eindig met room. Versier met neute en gerasperde flake of pepperment crisp sjokolade.

Advertisements
 

Kaaserige Brood Doopsous

Teresa Meyer

Bestanddele
1 Groterige Brood
450 g Gerasperde Kaas
200 ml Suur Room
4 Gekapte Sampioene
½ Fyn Gekapte Ui
½ Pakkie gekapte gaar bacon of 4 snye gekapte ham
Pietersielie en of ander kruie

Metode
Voorverhit oond tot 180 °C. Hol brood uit. Breek die uitgeholde brood in byt grote stukke. Meng res van die bestanddele. Skep dit in brood dop. Maak brood liggies toe met foelie rondom lw. nie bo-oor nie. Bak vir ongeveer 40 minute tot mooi goudbruin bo. Plaas brood stukke rondom brood vir laaste 10 minute. Bak in ‘n matige oond tot mooi bruin.

Wenk
Heerlik as voorgereg by ‘n braai. Kan ook opgedien word as ligte middag ete saam met ‘n slaai.

 

Bier sop

Bestanddele
1 l Bier
125 ml Suiker
4 Eiergele
50 ml Suurroom
2 ml Fyn kaneel
1 ml Sout
Vars gemaalde swartpeper

Metode
Gooi bier en suiker in pot. Verhit die bier en roer aanhoudend. Verwyder van die stoof wanneer die suiker gesmelt is. Klits die eiergele in ‘n klein bakkie. Gooi nou bietjies suurroom in die bakkie en klits. Voeg nou ‘n klein bietjie van die warm bier mengsel by die eiermengsel. Roer aanhoudend met whisk. Voeg nou al die bier mengsel by die eiermengsel en whisk goed. Plaas nou die pot weer terug op die plaat, en prut oor lae hitte totdat die sop begin verdik. Moet nie laat die mengsel kook nie want anders sal die sop skif. Roer die sout en kaneel in. Bedien onmiddellik.
Garneer met gemaalde swart peper.

 

Aartappels en Vis gebak

Liza Bosch

Bestanddele
6 Aartappels
62,5 ml Margarien
25 ml Olie
450 g Stokvis mootjies
Sout & Peper
1 blik Sardyne in tamatiesous (420 g)
2 Tamaties, ontvel en in skywe gesny
150 g Sampioene
Pietersielie

Metode
Sny die aartappels in dobbelsteentjie-blokkies en kook in soutwater tot net gaar, maar nog ferm. Dreineer. Smelt die margarien en voeg die olie by. Gooi oor die gedreineerde aartappels. Maak die stokvis mootjies skoon, geur met sout en peper en maak gaar. Verwyder die vel en grate, vlok effens en plaas in gesmeerde oondvaste bak. Voeg die sardyne en tamatiesous by en meng goed. Rangskik die tamatie skyfies en sampioene bo-op vis en geur met sout en peper, asook ‘n bietjie pietersielie. Skep die aartappel-blokkies bo-op en plaas in voorverhitte oond van 180 °C. Bak vir 40 – 50 minute lank of totdat die aartappel kors goudbruin en bros is. Genoeg vir sowat 8 persone.

 

Beste Vleis Marinade

Oom Koetie Basson

Bestanddele
250 ml Tamatiesous
250 ml Blatjang
50 ml Olie
30 ml Stroop
5 ml Tabasco
5 ml Worcestersous
5 ml Suurlemoensap
5 ml Sout
5 ml Aromat
5 ml Paprika
5 ml Peper

Metode
Meng al die bestanddele saam. Marineer vleis (hoender, sosaties of steak) oornag.
Braai vleis en geur na smaak.

 

Babs se Koolslaai

Tannie Babs Schutte

Bestanddele
1 Koolkop Gerasper
2 Pakkies Groenpruim jellie
1 Blik Kondensmelk
1 Groot blik fyn pynappel
1 k Mayonnaise

Metode
Meng alles deeglik vir slaai. Die jellie moet nie aangemaak word nie. Heerlik !!!!!

Wenk
Sny die kool met ‘n mes in klein repies. Dit lyk mooier as die gerasperde kool.

 

Hoenderpastei

Frik Lombard

Bestanddele – Hoender
Genoeg hoender vir gesin
Gemengde Groente
Ui
Sout en Peper

Bestanddele – Kors
1 Eier
1 Koppie Meel
1 t Bakpoeier
Sout en Peper na smaak
Kruie en speserye

Metode
Kook die hoender en ui saam tot hoender sag is. Skep hoender uit die water en laat afkoel. Vlok die hoender en hou eenkant. Kook nou die groente sommer in die hoender aftreksel. Gooi die meel en bakpoeier in ‘n mengbak. Gooi nou sout, peper en kruie en speserye na smaak in. Maak gaatjie in middel en breek die eier daarin. Meng goed en begin om melk stadig by te voeg. Die mengsel moet slap wees maar nie te loperig nie. Meng die hoender en groente in ‘n ander mengbak. Plaas nou die hoender mengsel in ‘n oondbak. Gooi die deeg nou oor die hoender en bak in ‘n matige oond tot mooi bruin.

 

Botterkluitjies

Mev. Leë

Bestanddele
2 1/2 E Maizena
1 E Suiker
2 Eiers – geskei
Sout
2 K melk

Metode
Laat melk kook. Meng Maizena, suiker, sout en eiergele met ‘n bietjie koue melk aan. Roer in kookmelk en laat kook. Klits eierwit styf en vou in. Skep met lepel in bak. Stip met stukkies botter en strooi suiker en kaneel oor. Bedien warm.

Geniet dit!!

 

Brood

Petro

Bestanddele
1 kg Koekmeel
1 Pakkie Droë gis
2 e Olie
2 e Asyn
20 ml Sout
10 ml Suiker
1 l Water

Metode
Meng al die droë bestanddele saam.
Meng die water met die olie en asyn.
Meng nou die water en die meel.
Verdeel nou tussen 2 broodpanne.
Bak teen 180C vir 1 uur. (Sien asb. Wenk).

Wenk
Die brood kan in ‘n koue oond geplaas word, direk na dit gemeng word. Skakel nou die oond aand. Die brood sal rys. Indien jou oond vinnig warm word, skakel die oond aan teen sowat 50C. Plaas die twee broodpannetjies in die oond, totdat die brood gelyk met die pannetjie gerys het. Om die brood anders te maak, kan gerasperde kaas, of gekapte sondroog tamaties oor die brood gestrooi word.

 

Kerrie skaapvleis

Bestanddele
1.5 kg Skaapvleis in blokkies
4 Uie fyngekap
250 ml Water gekook
37,5 ml Appelkooskonfyt
12.5 ml Kerriepoeier
12.5 ml Suiker
12.5 ml Meel
12.5 ml Asyn of Suurlemoensap
Sout en Peper na smaak

Metode
Soteer die ui in margarien tot ligbruin. Voeg vleis by die uie mengsel. Braai vleis tot lig bruin. Gooi water by en laat kook vir so 1½ tot 2 ure. Maak ‘n pasta van al die ander bestanddele. Kook tot vleis sag is. Dien op met blatjang, rys en klapper.