KERRIE MARINADE

Lynette Muller
Maak 3 koppies

Bestanddele
2 uie, in repies gesny
2 k water
4 t kerriepoeier
2 e blatjang*
3 t borrie
3 e suiker

METODE:
Soteer die uie in ʼn pan tot sag (moet nie dit bruin braai nie) en voeg die water by. Bring tot kookpunt. Giet die kerrie en borrie by en roer die blatjang by. Laat dit goed deurkook en voeg die suiker by. Kook 5 minute. Haal van hitte af en laat afkoel. Bedek rooivleis met marinade en los 2 – 3 dae in die yskas voor dit gebraai word.

*Vervang die blatjang met appelkooskonfyt vir hoender en met appelasyn vir varkvleis.

Advertisements
 

STAMPMIELIE VERRASSING

Woumarie
Foto en Resep RSG

Bestanddele
1½ kg stowe skaap of beesvleis
2 uie, opgekap
1 kg tamaties, opgekap
1 pakkie stampielies
500g suikerbone
1 liter water
1 pakkie beesstertpoeiersop
2 ml tiemie
2 ml roosmaryn
sout

METODE
Week die bone en stampmielies oornag in water. Kook ongeveer 2 ure tot sag. Dreineer. Voeg een liter water by en kook saam met pakkie sop vir 15 minute. Braai uie en voeg vleis by en braai tot bruin. Voeg kruie en tamaties by. Sodra bone klaar gekook is met soppoeier, voeg dit by die vleis en prut saam vir 20 minute. Bedien met Worcestersous en swartpeper.

 

Beesvleispastei

Jan van Niekerk
Lewer 50 porsies
Maak 2 afsonderlike pasteie vir 25 persone elk

Bestanddele:
2 x 4 kg Ontbeende beesnek of –skenkel in 20 mm blokkies gesny
2 x 80 ml Kookolie
2 x 4 Groot uie
2 x 10 ml Fyngemaalde knoffel
2 x 20 ml Sout
2 x 10 ml Varsgemaalde swartpeper
2 x 20 ml Droë gemengde kruie
2 x 1 Liter warm vleisaftreksel
2 x 150 ml Meelblom

Kors:
2 x 500 ml Bruismeel
2 x 5 ml Sout
2 x 150 g Botter
2 x 125 ml Karringmelk
2 x 3 Ekstra groot eiers
2 x 30 ml Melk

Metode:
Ver die olie in twee groot swaarboomkastrolle en braai die vleisblokkies bruin. Moenie al die blokkies gelyk ingooi nie danmaak dit te veel sous voor die vleis bruinbraai. Voeg die uie en knoffel by en braai 10 minute. Voeg die geurmiddels en verhitte aftreksel by, bedek en prut vir 2 uur 30 minute. Maak ‘n pasta van die koekmeel en water en voeg dit by die potte. Prut nog 15 minute tot die sous lekker dik is.

Kors:
Sif die droë bestanddele in twee afsonderlike groot mengbakke. Vryf die botter met die vingerpunte in , klits die karringmelk, eier en melk saam en meng met die meel tot ‘n sagte deeg gevorm het. Plaas in die yskas vir 1 uur. Rol die twee stukke deeg 1cm dik uit. Skep die vleis in twee groot oondpanne en bedek met die deeg. Smeer geklitste eier oor die deeg. Bak die pasteie in voorverhitte oond by 200°C vir 25 minute. Lewer 25 porsies per pastei.

 

FRIKKADELLE SO MAKLIK

Ingestuur deur Lynette Muller

Bestanddele
500 g. maalvleis
1 pakkie bruin uie sop poeier
1 eier
125 ml. room of gewone (plain) yogurt

Metade
Meng alles goed saam.
Vorm frikkadelle en pak dit in ‘n vuurvaste bak.
Bak vir ongeveer ‘n half uur in ‘n oond wat vooraf teen 180 grade verhit is.

 

VLAAMSE BEESVLEISBREDIE (4 porsies)

Ingestuur deur Rika Theron

Bestanddele
20 ml olie,
sout en peper,
2 uie in skywe gesny en in ringe getrek,
500 g beesvleis in blokkies gesny,
2 wortels in skywe gesny,
1 lourierblaar,
5 ml gemengde kruie,
15 ml mosterd,
1 sny brood,
korsies verwyder.

Metode
Verhit olie in ‘n kastrol, voeg uie en vleis by en braai tot vleis bruin is.  Geur goed met sout en peper.  Voeg wortels, lourierblaar en kruie by en genoeg water om dit te bedek.  Bedek en prut tot vleis sag is.  Smeer mosterd aan albei kante van die brood en plaas op bredie. Stowe vir  nog sowat 5 minute.  Roer brood deeglik by bredie in.

 

Tamatiebredie met Beesskenkels

Ingestuur deur Jan van Niekerk

Bestanddele:
1,5 kg Beesskenkels
10 Ryp tamaties
65 g Tamatiepasta
30 ml Olie
10 ml Botter
3 Uie, grof gesny
10 ml Varsgemaalde Swartpeper
2 ml Fyn Naeltjies
5 ml Wonderpeper
5 t (25 ml) Fyn koljander
5 ml Fyn komyn
15 ml Gemaalde knoffel
250 ml Kookwater
6 Mediumgrootte aartappels, in kwarte gesny
15 ml Sout
10 ml Suiker
4 Vars of 2 droë lourierblare

Opsioneel: Gooi 500g gekerfde biltong by vir ‘n lekker smaak.

Metode:
Laat lê die tamaties ’n halfminuut in kookwater en laat afkoel in koue water.
Verwyder die skilletjies en kap tamaties op.
Verhit olie en botter in ’n gietysterpot of geskikte swaarboomkastrol en braai vleisblokkies tot goudbruin.
Gooi uie by en verbruin.
Roer wonderpeper, koljander en komyn by.
Gooi kookwater by en prut ’n uur met deksel op.
Gooi tamaties, aartappel, sout, gemaalde swartpeper, suiker en lourierblare by.
Stowe nog ’n uur.

Wenk: Om die sous te verdik, vryf 15 ml botter in by 15 ml meelblom. Roer dit by die bredie. Kook tot dik. Voeg Biltong laaste by bo op bredie.

 

Beesvleis en Groen Mango kerrie

Vir die Kerrie:
1.2 kg beesvleis, in klein stukkies gesny
15 ml Willow Creek olyfolie
1 ui, fyn gekap
10 ml knoffel, fyn gekap
2 cm gemmer, fyn gekap
Gemengde speserye: 10 ml mosterdsaadjies, 10 ml vinkelsade, 10 ml koemyn, 4 kardamompeule, 1 steranys – alles saam gepers en gemeng in ‘n stamper en vysel.
15 ml Harissa pasta
1 blikkie klappermelk
200 g kersietamaties
125 ml sampioene, fyn gekap
8 ml koekmeelblom (maizena)
200 g groen mango, fyn gekap

Vir die Gebakte Patats:
4 groot patats
15 g vars tiemie
8 ml swartpeper
8 ml sout
100 ml Willow Creek Olyfolie
Metode:

Vir die kerrie:
Braai die ui, knoffel, gemmer en speserymengsel in die olyfolie oor ‘n mediumhitte vir ongeveer 10 minute. Voeg die Harissa Pasta by gevolg deur die klappermelk, tamaties, sampieone en koekmeelblom. Voeg die helfte van die groen mangostukkies by en laat prut oor ‘n mediumhitte vir ongeveer 15 minute.

Braai die vleis in olyfolie en voeg by dit by die ander mengsel saam met die res van die groen mango stukkies. Laat prut vir nog so 5 minute voor opdiening.

Vir die Gebakte Patats:
Skil die papats en sny in stukke. Plaas dit in ‘n oondbak en strooi die ander bestanddele bo-oor. Bak teen 200 grade Celcius in die oond tot sag.

 

Portugese Beesvleis- en Uie gereg

Genoeg vir 4 persone

Bestanddele
½ E koljandergegeurde Willow Creek olyfolie
½ E knoffelgegeurde Willow Creek olyfolie
800 g kruisskuif, in repe gesny
2 groot uie, fyn gekap
4 tamaties, fyn gekap
1 E vars pietersielie, fyn gekap
1 bay leaf
½ kop romanesco (of gewone broccoli)
Sout en peper na smaak
15 ml braaivleisspesery
Vars koljanderblare, grof gekap
Rooipeper na smaak (opsioneel)
1 koppie witrys
½ rooipeper
½ geelpeper
½ koppie grondboontjies, fyn gekap
Nog pietersielie en koljanderblare vir garnering.

Metode:
Verhit die olie in ‘n groot pan en braai die vleis daarin vir ongeveer 2 tot 3 minute aan elke kant. Voeg die uie, tamaties, pietersielie, bay leaf, sout en peper by en verhit tot dit begin prut. Verlaag die hitte, sit deksel op en laat prut vir ongeveer 20 minute. Voeg die Romanesco (broccoli) by en laat prut nog ‘n rukkie. Verwyder die deksel, draai die hitte hoër en laat vinnig kook om die oortollige vloeistof te verminder.

Bedien warm op die witrys (gemaak volgens die metode onder)
Kook die rys gaar en voeg die gekapte pepers, grondboontjies en vars koljanderblare daarby.