VEGETARIESE EIERVRUGPOTJIE

Anna Eksteen

Bestanddele
500ml botter of suikerbone, oornag geweek
5 medium aartappels
1 klein botterskorsie
2 groot eiervrugte
4 witwortels
5 groot geelwortels
125ml olyfolie
2uie, gekap
5ml sout
varsgemaalde swartpeper
10ml droë tiemie
10ml droë roosmaryn
4 heel knoffelhuisies
250ml groente aftreksel of appelkoossap
5ml rissiesous

Metode
Kook die boontjies omtrent ‘n uur lank tot dit net sag is, dreineer en hou eenkant. Was die aartappels, botterskorsie, eiervrugte, witwortels en geelwortels: dit is nie nodig om enige van hierdie groentes te skil nie. Sny dit in happiegroottes. Verhit die gietysterpot oor die kole, gooi die olyfolie daarin en soteer die uie tot deurskynend .Pak die groente in lae bo-op die uie. Sorg dat die groente wat die langste neem om gaar te word onder in die pot is. Wissel elke laag af met ‘n laag van die boontjiemengsel en strooi ‘n bietjie sout, peper, tiemie en roosmaryn oor. Druk die knoffelhuisies tussen-in. Giet verhitte aftreksel of appelkoossap oor die laaste laag. Giet die rissiesous in die middel van die groente deur ‘n opening in die middel daarvan te maak met ‘n lang mes of lepel. Bedek die pot met ‘n stuk foelie, verseël dit goed om die rand en sit die deksel op. Prut 1½-2 uur oor baie lae hitte. Lewer 6 porsies.

Wenk
Hierdie resep hoef nie net in ‘n potjie gemaak word nie maar kan ook in ‘n gewone pot op die stoof gemaak word.

Advertisements
 

MOUSAKA

Woumarie

Bestanddele
1 Groot ui, gekap
37,5 ml ( 3 e ) margarien of olie
500 g gemaalde vleis
125 ml ( ½ k ) meelblom
25 ml ( 2 e ) tamatiepasta
10 ml ( 2 t ) suiker
125 ml ( ½ k ) kouewater
10 ml ( 2 t ) gekapte pieterselie
Sout en peper na maak
1 middelmatige eiervrug
25 ml ( 2 e ) olie
375 ml ( 1 ½ k ) melk
5 ml ( 1 t ) suurlemoensap
1 eier
250 ml ( 1 k ) gerasperde skerp cheddarkaas

METODE:
Braai die ui in 12,5 ml ( 1 e ) margarien in `n kastrol tot dit deurskynend is. Voeg die vleis by, roer en braai omtrent 5 minute lank.
Roer 12,5 tot 25 ml ( 1 tot 2 e ) meelblom daarby en kook dit nog 2 minute lank. Meng die tamatiepasta, suiker en water en roer dit by die vleis. Geur met sout en peper na smaak. Sit die deksel op en kook dit 15 min. lank stadig. Skil en sny die eiervrug in skywe of blokkies en braai dit 10 min. lank in die warm olie. Sit die vleis en eiervrug in lae in `n kasserol.

Maak `n witsous van die orige meel, margarien en melk en geur dit met sout en peper na smaak. Voeg die suurlemoensap en 187 ml ( ¾ k ) gerasperde kaas daarby. Klits die eier en roer dit ook by. Gooi die kaassous oor die vleis en strooi die orige kaas daaroor.
Bak dit 30 tot 35 min. lank by 180 C ( 350 F ) tot dit mooi bruin is bo-op.

NOTA: Die eiervrug kan met skyfies aartappel vervang word.

 

Eiervrug Lasagne

Bestanddele
2 eiervrugte, in skywe gesny
250 ml (1 k) koekmeel
3 eiers, geklits
30 ml (2 e) olie

MAALVLEISSOUS
1 ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
1 kg maalvleis
1 blikkie (25 g) tamatiepasta
1 blik (410 g) tamatiepuree
80 ml blatjang
sout en vars gemaalde
swartpeper
20 ml (4 t) pietersielie, fyngekap

WITSOUS
120 ml (½ k) botter
160 ml koekmeel
1 liter (4 k) melk
250 ml (1 k) cheddarkaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 180 °C.
Sny die eiervrugte in 1 cm-skywe en doop elkeen in meel.
Skud die ergste meel af en doop die skywe daarna in die eier.
Verhit van die olie en braai die eiervrugskywe aan albei kante tot gaar.
Verhit die res van die olie en braai die ui en knoffel tot sag.
Voeg die maalvleis by en braai tot amper gaar.
Roer die tamatiepasta en -puree, blatjang, sout, peper en pietersielie by en laat prut 20 minute.
Verhit die botter in ’n kastrol, roer die meel by en meng tot dit ’n pasta vorm.
Giet die melk by en roer tot ’n dik witsous vorm.
Geur met sout en peper.
Bedek die oondbak (20 cm x 30 cm) met ’n dun lagiewitsous, daarna ’n lagie eiervrug en dan maalvleis.
Herhaal die lae tot al die bestanddele gebruik is.
Eindig met witsous, sprinkel kaas bo-oor en bak 40 minute of tot gaar.