Karoo ‘Bunny Chow’

Ingestuur deur Lynette Muller
Deur Lise Beyers

Elke nou en dan kom jy ’n gereg teë wat jou voete onder jou uitslaan.

Bestanddele
1 witbrood, verkieslik tuisgemaak en reghoekig
1 dik middelsnit – bees¬filet wat byna so lank soos jou brood is
1 e. koljandersaad
1 e. mosterdsaad
2 e. mosterd (enige wat jy byderhand het)
olyfolie
1 e. gemengde kruie
4 e. knoffelbotter
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode.
1. Soos alle vleis voordat dit gaargemaak word, moet die filet tot kamertemperatuur gebring word.
2. Stamp die koljander- en die mosterdsaad saam totdat dit grofgemaal is. Gooi die kruie by.
3. Smeer die filet met mosterd, gooi dan ’n paar goeie knertse olyfolie daaroor en rol in speserymengsel. Vryf alles goed oor vleis.
4. Jou kole moet bitter warm wees. Jy wil die filet letterlik net skroei en nie gaarmaak nie. Dus sal ek sê net so drie minute aan ’n kant. En onthou, ’n filet het basies vier kante wat bruin moet wees.
5. Haal van kole af en laat rus.
6. Sny die boonste deksel van die brood af sodat dit ’n kissie vorm. Skep dan die brood se binneste uit, smeer die vleis met knoffelbotter en sit die filet knus in die uitgeskepte “kissie” in die brood.
Sit die brooddeksel op en maak die pakkie styf toe met foelie.
7. Braai nou die brood stadig oor matige kole, sowat 20 minute, al draai-draai totdat dit deurwarm is.
As jou gaste nie hierdeur beïndruk is nie, nooi jy hulle eenvoudig nie weer nie.

Advertisements

Beesfillet met songedroogde tamaties en Feta

Bestanddele
1 kg beesfilet – senings verwyder (vra jou slagter om dit te doen vir jou)
sout en peper
100 g fetakaas
1 pakkie songedroogde tamatiehalwes, gedreineer, maar hou die olie
45 ml basiliepesto (opsioneel)
slagterstou

Metode
Verhit die oond tot 200 C. Lê die beesfilet op ‘n plat oppervlak en maak ‘n snit in die helfte en bokant met ‘n skerp mes, om ‘n sakkie te maak. Maak die “vleissakkie” oop en smeer die pesto aan die binnekant. Lê die sondroogde tamaties al langs die middel. Verkrummel die fetakaas oor die tamaties.
Sny 4 – 6 stukke tou en bind dit om die vleis om die vulsel in te hou. Vryf die fillet met die olie wat jy gedreineer het uit die tamaties. Geur met sout en peper. Verhit ‘n riffelpan of gewone gietysterpan op die stoof en braai die vleis aan die alle kante totdat dit bruin is. Plaas die pan in die oond en kook vir nog 15 – 20 minute, afhangende van hoe jy verkies om jou vleis te eet. Vir die laaste 8 minute, braai ‘n paar tamaties en uie saam met die fillet.

Beesfilet, appel en whisky pasta

www.ontbytsake.co.za

Genoeg vir 6 persone

Bestanddele
1 kg beesfilet
500 g vars pasta
1 rooi ui, fyngekap
15 ml botter
5 ml engelse mosterd
1 granny smith appel
1cm gemmer, fyngekap
5ml knoffel, fyngekap
50 ml gemengde kruie
250 Dewfresh room
15 ml meelblom
15 ml goeie gehalte whisky
sout en peper

Metode:
Braai die rooi ui, gemmer, mosterd en knoffel in die botter vir 5 minute. Voeg 2 ml sout en peper by. Gooi die whisky in en steek dit aan die brand. Laat die alkohol uitbrand. Sny die beesfilet in klein stukkies en gooi die meelblom oor. Sit dit nou ook in die pan en braai tot medium gaar. Voeg die room by en prut op ‘n matige hitte tot die sous verdik. Proe en maak seker daar is genoeg sout en peper in die sous. Kook die pasta in soutwater vir omtrent 2-6 minute – vars pasta sal dryf as dit gaar is. Dreineer. Sny die appel in klein blokkies en gooi in die sous. Gooi die sous nou oor die vars pasta en meng liggies. Bedien met vars kruie.

Beesfilet-oor-die-kole met sampioensous

Deur Herman Lensing
(6 porsies)

Bestanddele
100 ml olyfolie
hand vol vars kruie van jou keuse, fyngekap
5knoffelhuisies, gekap
100 ml rooiwyn
1 kg beesfilet
sout en varsgemaalde swartpeper

Bestanddele Sous
45ml olyfolie
2knoffelhuisies, gekap
1 ui, fyngekap
400 g gemengde sampioene
50ml brandewyn
250 ml room
sout en varsgemaalde swartpeper

Metode
Meng olyfolie, kruie, knoffel en rooiwyn. Marineer filet oornag in die mengsel. Geur goed met sout en swartpeper.Braai filet stadig oor matige kole – sowat 15 minute aan ‘n kant vir medium-gaar of langer as jy dit gaarder verkies. Haal van hitte af en laat rus in skoon bak. Maak sous deur olyfolie in ‘n mediumgroot pot te verhit. Voeg knoffel en ui by.Braai liggies vir sowat 5minute of tot begin verkleur. Voeg sampioene by en braai verder vir 5 – 8 minute of tot goudbruin en gaar.Gooi brandewyn by en laat wegkook. Voeg room by en verlaag hitte.Laat stadig prut tot vloeistof met helfte verminder, sowat 10 – 12minute. Geur goed met sout en swartpeper. Sit filet voor saam met sampioensous.

Gemarineerde Filet

Baie dankie vir jou resep Erna Butler
Hierdie resep is ideaal vir byvoeging tot n buffetete vir die feesgety op hande.
Die fillet kan voor die tyd tot by stap 3 gemaak geword.
Betsanddele
1,5 kg beesfilet
EERSTE MARINADE
Meng:  45 ml sojasous
               2.5  ml sout
                30 ml olie
                5 ml bruinsuiker
TWEEDE MARINADE
1  bottel 340 ml  GRIEKSE SLAAISOUS
Metode
Sit die filet in n glasbak en gooi die eerste marinade oor. Bedek en marineer vir  3 ure
Voorverhit die oond tot 180 grade
Haal die filet uit die marinade en klad droog.
Sit dit in n oondpan en bak ONBEDEK  vir 20 minute
Haal uit en bedek dadelik met foelie en laat eenkant afkoel.
Plaas die afgekoelde filet in tweede marinade en verkoel oornag in die   yskas.
Haal filet uit die marinade en sny in dun skywe.  Versier die vleisbord soos verkies….

Chinese stroganoff

Bestanddele
1 kg beesfilet                                                                                      
75ml gerasperde ui
2 knoffelhuisies, gekerf                                                                 
250g vars sampioene, gekerf
300ml beesaftreksel                                                                        
25ml sojasous
50ml droë witwyn                                                                             
75ml mielieblom
5ml droë mosterd                                                                             
25ml olie
200ml jogurt of suurroom

Metode
Voorverhit die oond tot 160°C. Sny die vleis in dun repies en rangskik in ‘n oonskottel in ‘n enkellaag. Strooi die uie, knoffel en sampioene oor. Klits die aftreksel, sojasous, wyn, mielieblom, mosterd en olie saam en skep oor die vleis. Bedek en marineer vir 2 ure. Bak 30 min. Onbedek. Roer jogurt of room in, plaas die gereg vir 15 min. terug in oond. bedien saam met loemoenrys.

Chris se ryk mans filet

RSG

Bestanddele
Spek
Sampioene
Uie
Botter
250 ml room
Filet

Metode
Sny spek in repies. Sny sampioene en uie, en braai saam met spek in botter. Voeg room by en kook totdat helfte van die vog afgekook het. Sny die filet halfpad oop en sit mengsel binne in filet en draai toe met ‘n tou. Sit in ‘n oondvaste bak in voorverhitte oond teen 180 grade met ‘n bietjie water, en bak vir sowat ‘n uur met deksel op.

Charlotte se murg fillet ~ RSG

RSG

Bestanddele en Metode
Neem een rol-fillet en maak ‘n gat van een punt na die ander punt met enige lang ronde skerp voorwerp. Kook genoeg murgbene om so ‘n koppie gaar murg te kry. Braai 1 fyngekapte ui, 1 pakkie sampioene (fyngekap) en 1 fyngekapte knoffelhuisie saam. Voeg sout en peper na smaak by. Voeg murg by en laat afkoel. Stop dan die mengsel in die fillet en trek ‘n vleis kousie oor die fillet. Smeer met goeie olyfolie en sout en peper na smaak. Skink vir jou en jou vriende ‘n lekker glasie rooiwyn terwyl hierdie heerlikheid op die kole braai. As bykos maak jy net ‘n doodgewone mengelslaai.

Charl se vet beesfilet

RSG

Bestanddele
Groot Beesfilet
Besemstok – skerp gemaak
Spinasie fyngekap
Mozzarella kaas
Olywe
Repies spek
Tandestokkie
Fyngemaalde swartpeper
Sout na smaak

Metode
Steek besemstok deur fillet. Plaas alle ander bestanddele behalwe swartpeper in fillet en maak toe met tandestokkies. Hou met besemstok oor vuur vir so 20 minute – skroei hom maar en sny in stukke. Addisioneel: ekstra spek, murg of skaapstert.