Hoender In Melk

https://uitkykvleismark.co.za

Bedien 4
Dis die eenvoud van die resep wat die smelt-in-die-mond-hoender spesiaal maak.

Bestanddele
1 heel hoender
seesoutvlokkies
1 suurlemoen, in kwarte gesny
3 takkies tiemie
30 ml olyfolie
500ml melk
4 lourierblare
5ml heel peperkorrels
2 blikke wit bone, gedreinee

Metode
Oondtemperatuur- 160 °C Geur die hoender met die sout en sit die suurlemoen en tiemie in die buikholte. Braai nou die hoender versigtig in ‘n bietjie olie tot bruin oraloor en sit dit dan borskant na bo in ‘n diep oondbak met ‘n deksel. Giet die melk oor en voeg die lourierblare en peperkorrels by, bedek en bak vir sowat 45 minute. Roer die bone by en bedruip die hoender met die sous. Sit onbedek terug in die oond en bak vir nog 25-35 miute.

Advertisements
 

MOUSAKA

Woumarie

Bestanddele
1 Groot ui, gekap
37,5 ml ( 3 e ) margarien of olie
500 g gemaalde vleis
125 ml ( ½ k ) meelblom
25 ml ( 2 e ) tamatiepasta
10 ml ( 2 t ) suiker
125 ml ( ½ k ) kouewater
10 ml ( 2 t ) gekapte pieterselie
Sout en peper na maak
1 middelmatige eiervrug
25 ml ( 2 e ) olie
375 ml ( 1 ½ k ) melk
5 ml ( 1 t ) suurlemoensap
1 eier
250 ml ( 1 k ) gerasperde skerp cheddarkaas

METODE:
Braai die ui in 12,5 ml ( 1 e ) margarien in `n kastrol tot dit deurskynend is. Voeg die vleis by, roer en braai omtrent 5 minute lank.
Roer 12,5 tot 25 ml ( 1 tot 2 e ) meelblom daarby en kook dit nog 2 minute lank. Meng die tamatiepasta, suiker en water en roer dit by die vleis. Geur met sout en peper na smaak. Sit die deksel op en kook dit 15 min. lank stadig. Skil en sny die eiervrug in skywe of blokkies en braai dit 10 min. lank in die warm olie. Sit die vleis en eiervrug in lae in `n kasserol.

Maak `n witsous van die orige meel, margarien en melk en geur dit met sout en peper na smaak. Voeg die suurlemoensap en 187 ml ( ¾ k ) gerasperde kaas daarby. Klits die eier en roer dit ook by. Gooi die kaassous oor die vleis en strooi die orige kaas daaroor.
Bak dit 30 tot 35 min. lank by 180 C ( 350 F ) tot dit mooi bruin is bo-op.

NOTA: Die eiervrug kan met skyfies aartappel vervang word.

 

TOAD IN A HOLE

Woumarie
Bron: Sarie Kos

Betsanddele
2 eiers
125 g meel
300 ml melk
15 ml korrelmosterd
8 varkworsies
8 snye pancetta of repies spek
45 ml sonneblomolie
sowat 6 takkies vars roosmaryn
sout en varsgemaalde swartpeper

METODE
Klits die eiers, meel en mosterd goed in ’n mengbak om klonte te voorkom. Geur met sout en swartpeper. Laat rus vir 15 minute.
Haal intussen die velle van die worsies af en draai elke worsie toe met pancetta of repies spek. Gooi diesonneblomolie in ’n oondbak van sowat 28 x 21 cm. Dit kan ook ’n kleiner bak wees. Rangskik die worsies in die bak en gooi die melk-beslag oor.
Bak in ’n baie warm oond (220 °C) vir sowat 25-30 minute.

 

Canneloni met groente

Woumarie
Genoeg vir: 6-8
Bereidingstyd: 1 uur
Gaarmaaktyd: 40 minute
Oondtemperatuur: 180 °C

Bestanddele
1 kg gemengde winter-groente
3 ryp tamaties, grofgekap
olyfolie
3 knoffelhuisies, geskil en gekap
3 selderystokkies, gekap
5 ml droë basilie
2 ml droë tiemie
50 ml botter
1-2 rooi-uie, middeldeur en dan dun opgesny
1 boks cannelloni-buisies
80 ml gerasperde cheddar
30 ml parmesaan
roket vir garnering

KAASSOUS
110 ml (100 g) botter
125 ml koekmeel
1 liter melk
100-200 ml gekrummelde bloukaas

METODE
Skil en sny die groente in klein blokkies of stukkies op – ons het pampoen, wortels, witwortels, patat, blomkool en eiervrug, gesout en
afgespoel, gebruik, maar jy kan enige groente van die seisoen gebruik. sit die groentestukkies saam met die tamaties in ’n oondpan.
Gooi lekker baie olyfolie oor. Voeg dan die knoffel, seldery en kruie by en meng goed deur. Bedek met foelie en rooster vir 20 minute in die verhitte oond. Haal die foelie af, roer deur en rooster sonder die foelie vir nog 20 minute of tot die groente karamelliseer en effens geskroei raak.Terwyl die groente in die oond is, kan jy die botter in ’n kastrol verhit. Voeg die rooi-ui by en soteer tot sag.

KAASSOUS
Verhit die botter in ’n kastrol. Voeg die meel by en roer vir ’n minuut tot glad. Haal van die plaat af. Voeg die melk bietjies-bietjies op ’n slag by en roer die heeltyd. Sit terug op die plaat en roer tot verdik. Roer die bloukaas by. Haal van die plaat af en geur na smaak.

Sit alles Bymekaar
Haal die groente uit die oond sodra dit sag is. Voeg omtrent 100-150 ml van die bereide kaassous by. Geur na smaak met sout en varsgemaalde swartpeper. Skep die groentemengsel in die cannelloni-buisies en pak dit in ’n gesmeerde oondbak sodat hulle netjies langs mekaar lê.
Smeer die gekaramelliseerde uie oor die buisies. Gooi die res van die sous bo-oor om dit oraloor te bedek. Strooi die cheddar en parmesaan oor. Bak in die verhitte oond vir 40 minute of tot die cannelloni sag is. Garneer met roket en sit voor.

 

NOEDELS  MET  TUNA 

Rika Theron 
4 porsies

Bestanddele: 
125 g rou noedels
1 ui, fyn gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
olie
2 tamaties, ontvel en in blokkies gesny
1 blikkie (185 g) gesnipperde tuna, in soutwater verpak
50 ml mayonnaise
25 ml blatjang
sout & swartpeper na smaak
knippie neutmuskaat
paar druppels tabascosous (opsioneel)
125 ml Cheddarkaas gerasper
25 ml gekapte pieterselie.

Metode: 
Voorverhit oond tot 180°C.  Smeer ‘n oondvaste bak.  Kook die noedels in soutwater sag.  Dreineer en hou eenkant.  Soteer die ui en knoffel in ‘n klein bietjie olie tot sag.  Voeg die tamaties by en prut tot ‘n moes.  Voeg die tuna asook ‘n bietjie van die soutwater waarin dit verpak is, by.  Voeg die noedels, mayonnaise en blatjang by, meng en geur met sout, swartpeper, neutmuskaat asook die tabascosous.  Meng goed en skep in die voorbereide bak.  Meng die kaas en pieterselie en sprinkel oor.  Bak sowat 20 – 30 minute of totdat die kaas gesmelt en die gereg lekker warm is.  Dien op saam met slaai.

 

 

MIELIEMEELHAPPIES 

Rika Theron

Bestanddele: 
375 ml melk
375 ml mieliemeel
1 groot ui, fyn gekap
1 groot groen soetrissie, fyn gekap
2 stele seldery, in ringe gesny (opsioneel)
2 medium wortels, in dun ringe gesny
50 ml botter
500 ml koekmeelblom
20 ml bakpoeier
5 – 7 ml sout
5 – 7 ml tiemie
1 ml rooipeper
1 ml neutmuskaat
25 ml suiker
3 ekstra groot eiers, effens geklits.

Metode: 
Voorverhit die oond tot 180°C.  Smeer twee panne van 24 x 24 cm met margarien.  Verhit die melk tot kookpunt in ‘n groot kastrol op die stoof.  Voeg die mieliemeel lepelsgewys by terwyl aanhoudend geroer word.  Meng goed en verwyder dan van die stoofplaat.  Laat effens afkoel.  Soteer die groente in verhitte botter tot effens sag.  Voeg by die mieliemeelmengsel en meng goed.  Meng die res van die bestanddele, buiten die eiers, goed saam.  Voeg dit beurtelings met die geklitste eiers by die mieliemeelmengsel en meng goed.  Verdeel die mengsel in twee en skep in die voorbereide panne.  Bedek en bak 30 minute lank of tot gaar.  Sny in blokkies en dien warm of koud op saam met tuisgemaakte tamatiesous.

Variasie: 
Skep lepelsvol van die mengsel in verhitte olie en diepvetbraai tot goudbruin en gaar van binne.  Dreineer op handdoekpapier.

Vir ‘n vinnige tamatiesous: 
Gebruik ‘n blik tamatie-en-uiesmoor, geur dit met sout, swartpeper en basielkruid en kook dit af totdat dit nie meer waterig is nie.

 

MACARONI-EN BULLYBEEF GEBAK

Lynette Muller

Bestanddele
500g macaroni
2 groot uie, geskil en gekap
37.5ml koekmeel
500ml melk
2 groot tamaties, geskil en gekap
300g blik soutbeesvleis, losgebreek
25ml vars pietersielie, gekap
50ml sterk blatjang
10ml gemengde, groen, droë kruie sout en peper na smaak
250ml gerasperde cheddarkaas

Metode
Kook macaroni soos op pak aangedui, dreineer. Braai die uie in die botter  tot  gaar. Voeg die meel by en roer, voeg die melk by en roer totdat die mengsel dik word en kook. Voeg al die oorblywende bestanddele by, behalwe die kaas. Bring tot kookpunt, laat prut en roer sodat die mengsel nie brand nie. Meng nou die sous van die macaroni en skep in ‘n oondvaste glasbak wat gesmeer is. Strooi laaste die kaas oor, en bak by 180C vir 20 minute tot gaar. Die resep lewer sowat ses tot agt porsies. Jy kan 4 geklopte eiers inmeng om die porsies tot tien te vermeerder.

 

BYGEREG VIR BRAAI VLEIS

Lynette Muller

Bestanddele
1 Brood ( gesny)
Botter
Marmite
2 kOP Gerasperde Kaas
2 pakkie Spek (lekker bruin gebraai)
4 Eiers
1 ½ Koppie melk
Sout en Peper
Skyfies tamatie

METODE:
Smeer die snye brood met botter en marmite en sny die broodsnye in halwes. Klits eiers in die melk en gooi bietjie sout en peper by.
Smeer ‘n vuurvaste bak. Pak ‘n stewige laag met die gesmeerde broodjies onder in die bak, rangskik spekvleis en tamatiesnye bo oor, strooi nou die kaas bo-oor. Gooi die eier-mengsel bo-oor en bak in oond by 180 *C vir 30 minute tot goudbruin

 

TUNA-GROENTESKOTTEL

Rika Theron 
(6 porsies)

Bestanddele
1 blik tuna,
1 blik ertjies of suikermielies,
6 murgpampoentjies, in ringe gesny,
1 pakkie sampioensop, dik aangemaak met water of melk,
200 g Cheddarkaas, gerasper,
50 g broodkrummels.

Metode
Pak al die bestanddele in lae in vuurvaste bak.  Hou ‘n bietjie kaas opsy om bo-op krummels te strooi.  Bak 20 – 30 min (160°C) .  Bedien met volgraanbrood en gemengde slaai.

 

 

AARTAPPEL EN ANSJOVIS GRATIN

Okkie Jansen van Vuuren

Bestanddele
300ml vars room
4 knoffelhuisies, gekneus
15ml gekapte vars pietersielie
5ml gekapte vars tiemie
4 ansjovis filette, fyn gekap
knypie witpeper
700g aartappels, geskil en in baie dun skywe gesny
200ml gerasperde cheddarkaas

Metpde
Voorverhit die oond tot 180C. Smeer ‘n oondpan van 18cm deeglik. Meng die room, knoffel, tiemie, pietersielie, ansjovis en witpeper goed in ‘n groot mengbak. Voeg die aartappelskyfies by en meng sodat die aartappels goed met die roommengsel bedek is. Keer dit uit in die voorbereide pan en maak die oppervlak gelyk. Bedek met tinfoelie en bak 40 minute of tot die aartappels sag is. Haal die tinfoelie af, sprinkel die kaas oor en bak nog 15-20 minute tot die kaas gesmelt het en bruin is. Laat sowat 10 minute rus en bedien.