Die Derde Maal

Die Derde Maal

Na so twee jaar kom die bleddie amptelike koevert weer daar by ons aan. My dogter was ses maande oud gewees.

Net voor die kamp besluit ek en my vrou dat ons so bietjie gaan vakansie hou in Durban. Ons bespreek plek in een van die vakansie woonstelle en kry een op die 10de vloer. Die een aand kruip ek in die bed in. My vrou sit ons dogter so tussen ons twee. My vrou blaai deur ʼn tydskrif en wys so die prentjies vir my dogter.

So raak ek aan die slaap, en droom een vieslike droom. Ek droom en herleef weer die aanval op Ruacana. Maar baie erger, want ek droom dat die MPLA se soldate die kamp omsingel het. My vrou
skuur met die tydskrif teen my arm en ek word wakker en vlieg op. Uit volle bors begin ek skreeu en hardloop na die woonstel se venster toe. Ek ruk en pluk aan die venster om die venster oop te maak. Ek wil net uit en weg kom van die aanval af. Ek is bang en skreeu al hoe harder. Gelukkig praat my vrou en ek skrik wakker, nog met my hande doening by die venster. Gelukkig kon ek nie die venster oopkry nie, anders het ek definitief by die venster uitgespring.

ʼn Paar weke na die vakansie is ek weer op ʼn Flossie (vliegtuig) Suidwes toe. Hierdie keer gaan ons Katima Molilo toe. So word daar aan ons vertel. Met die afwesigheid van kajuitpersoneel en drankies en eetgoed was die vlug nie te sleg gewees nie. Toe dit tyd raak om te land begin die strooi. Die vliegtuig vlieg in sirkels al laer. Hel dit was beslis nie lekker gewees nie. My maag het in my keel gesit.

Daar uitgeklim gaan ons na ʼn basis so ent van die lughawe af vir ons week se oriëntering. Katima lê langs die rivier. Regoor ons is Zambia. Daar is ook ʼn dorp aan die oorkant van ons gewees.
Sowat ʼn jaar voor ons daar aangekom het, op 23 Augustus 1978 het Swapo die een aand die basis aangeval. Agt of nege van ons soldate is daar doodgeskiet. Al die Soldate was van 2 SDB (2 Spesiale Diens Bataljon). Hulle het teenstrydig met hulle opleiding nie in die loopgrawe gaan skuiling soek nie. Toevallig was daar ook ʼn radio joernalis van die Sauk ook daar gewees.

Toe die eerste 122mm missiel die basis tref hardloop die joernalis en sit sy bandopnemer op die bomskuiling se dak en so kry die weermag ook ʼn klankbeeld van die aanval. Die volgende dag of kan
ook nog dieselfde aand wees het die weermag ook nog honderde foto’s van die aanval geneem.

Die foto’s en die klankopname is as deel van ons oriëntasie aan ons gewys. Eers het ons na die klankopname geluister. Tussen die mortiere word daar hardop gebid, God word vervloek, manne wat
skreeu om hulp, manne wat hard sit en huil. ʼn gekreun en gekerm oral waar jy kan hoor.

Maak nie saak wie of wat jy is nie, om sulke dinge te hoor is nie maklik nie. Nou word die foto’s rondgestuur. Een foto wat ek altyd sal onthou is ʼn foto van ʼn lyk in ʼn boom. Die een helfte van die man se kop is weggeskiet. Daar kom so ʼn haat en woede in jou op wat nooit, nooit verlaat nie.

Een van die offisiere het iets gesê soos “Sien julle wat die blerrie mense doen aan ons mense” . Met die beeld en klank nog vars n ʼn mens se geheue en met die woorde kan jy nie anders as om al wat swart is te haat nie.

So begin ons, ons derde kamp.

Advertisements