Maklikke Hoendersop

Lynette Muller

Bestanddele
5 stukkies hoender sonder vel en been
500 ml bevrore groente – vooraf gekook
3e botter
30ml mielieblom
750ml melk
2 blokkies hoendergeur
250ml hoender sonder vel en been
bietjie olie

Metode
Sny die hoender in blokkies. Gooi bietjie olie en botter onder-in verhitte pan. Braai die stukkies hoender in die olie en botter en hou eenkant. Braai die groente in die botter in ‘n kastrol.
Voeg ‘n klein bietjie van die melk by die mielieblom in ‘n aparte bakkie en meng saam sodat daar geen klonte is nie. Voeg die res van die melk by die groente in die kastrol en hou aan roer.
Breek die hoendergeurblokkies in fyn stukkies by die melk en groente en hou aan roer. Voeg die mielieblom en melk by en roer, sodat die mengsel kan verdik. Voeg die gebraaide hoender by die melkmengsel – hou aan met roer.

Advertisements

HOENDER EN VRUGTESLAAI

Rina

Bestanddele
800g gaar oorskiet-hoender, in stukkies gesny
2 nektariens, ontpit en in wiggies, gesny
2 geelperskes, ontpit en in stukkies gesny
½ spanspek, ontpit, geskil en in blokkies gesny
1 blik mango’s gedreineer en kleiner gesny
2 groen brandrissies, fyn gekap
25g vars koljanderblare, fyn gekap

SLAAISOUS:
30ml mayonnaise
60ml suurroom
sout en vars gemaalde swartpeper
15ml komynsaad, gerooster (opsioneel)

Metode
Meng die hoenderstukkies, vrugte, rissies en vars koljanderblare. Klits die mayonnaise en suurroom saam en klam die slaai liggies aan. Geur goed met sout en vars gemaalde peper en besprinkel met geroosterde komynsaad.

Bedien 6 mense.

Wenk
Jy kan enige vrugte van jou keuse gebruik, bv. Vye, mango of pere. Hierdie slaai sal heerlik wees saam met ‘n bruin saad broodjie

PERI-PERI-PLATHOENDERTJIE

Anna Eksteen
Koop ‘n vars plaashoender, sny die rugstring uit en druk die karkas plat met jou oop hand. Plaas oornag in ‘n appelpekelmengsel voordat dit op die braaivuur gaargemaak word.

Bestanddele Hoender
1 groot plaashoender

PEKELMENGSEL:
250ml vars appelsap
500ml koue water
62.5ml growwesout
80ml bruinsuiker
250ml fyn ys

Meng die appelsap, water, sout en suiker in ‘n groot beker. Plaas ysblokkies in ‘n skoon afdroogdoek, bind op en slaan fyn. Meet ‘n koppie vol en gooi by die res van die bestanddele.

BRAAISOUS:
62.5ml olyfolie
200ml peri-peri-bedek-en-kook-sous
1 groot toeritsplastieksak

Metode
Plaas die hoender in die plastieksak. Gooi die pekelmengsel oor en rits toe. Laat staan oornag in die yskas. Klad droog en verf aan albei kante met olyfolie. Braai tot halfgaar en begin dan die hoender met die peri-peri-sous verf. Draai af en toe om tot gaar. Voeg orige olyfolie by sous. Verhit en gooi oor die gaar hoender. Heerlik saam met slaai en pietersielie-aartappeltjies.

ROOI POTJIE VIR PA

Anna Eksteen
Gebruik ‘n nommer 3 potjie

1 kg hoender
fyn sout
growwe swart peper
koekmeel om stukkies in te rol.
2 medium uie fyn gekap
kook rys apart tot gaar.
10ml fyngemaakte gemmer en knoffel
20ml botter
10 klein aartappeltjies
10 jong worteltjies
10 klein vlapampoentjies
250g knopie sampioene

BESTANDDELE VIR DIE SOUS
300ml tamatiesous
50ml blatjang
20ml Worcestersous
2ml tabascosous
50ml asyn
50ml suiker
5ml mostertpoeier
15ml paprika
125 water

Metode Sous
Voeg alles bymekaar is ‘n bottel en meng goed deur die bottel te skud.

Metode Potjie
Maak jou pot warm en gooi botter by.Braai die fyngekapte uie en gemmer/knoffel tot die geur uitkom. Neem die hoender porsies en strooi individueel een vir een met fyn sout en peper. Nadat die gedoen is doop die hoender porsies in die koekmeel en voeg in die pot. Roer totdat die hoender porsies goed met die uie en olie bedek is vir so 10 minute. Gebruik ‘n houtlepel. Van nou af roer jy nie weer jou pot totdat jy opskep nie. Gooi nou jou sous soos bo saamgestel in en laat jou pot stadig loop. (Borrel liggies regdeur). Los so vir ongeveer 15 minute. Voeg nou jou groente in lae in die volgende volgorde. Aartappels, jong wortels, pampoentjies, en sampioene. Los so vir ongeveer 45 minute Voeg klaargekookte rys by so 10 minute voor opskep, en laat die sous deurkook. Die pot loop so 2½ uur.

KERRIE MARINADE

Lynette Muller
Maak 3 koppies

Bestanddele
2 uie, in repies gesny
2 k water
4 t kerriepoeier
2 e blatjang*
3 t borrie
3 e suiker

METODE:
Soteer die uie in ʼn pan tot sag (moet nie dit bruin braai nie) en voeg die water by. Bring tot kookpunt. Giet die kerrie en borrie by en roer die blatjang by. Laat dit goed deurkook en voeg die suiker by. Kook 5 minute. Haal van hitte af en laat afkoel. Bedek rooivleis met marinade en los 2 – 3 dae in die yskas voor dit gebraai word.

*Vervang die blatjang met appelkooskonfyt vir hoender en met appelasyn vir varkvleis.

Hoender In Melk

https://uitkykvleismark.co.za

Bedien 4
Dis die eenvoud van die resep wat die smelt-in-die-mond-hoender spesiaal maak.

Bestanddele
1 heel hoender
seesoutvlokkies
1 suurlemoen, in kwarte gesny
3 takkies tiemie
30 ml olyfolie
500ml melk
4 lourierblare
5ml heel peperkorrels
2 blikke wit bone, gedreinee

Metode
Oondtemperatuur- 160 °C Geur die hoender met die sout en sit die suurlemoen en tiemie in die buikholte. Braai nou die hoender versigtig in ‘n bietjie olie tot bruin oraloor en sit dit dan borskant na bo in ‘n diep oondbak met ‘n deksel. Giet die melk oor en voeg die lourierblare en peperkorrels by, bedek en bak vir sowat 45 minute. Roer die bone by en bedruip die hoender met die sous. Sit onbedek terug in die oond en bak vir nog 25-35 miute.

HOENDER  MET  SAMPIOENE

Rika Theron
2 porsies

Bestanddele:
15 ml olie
30 g botter
2 hoender Maryland-stukke (dye en boudjies)

Sous:
30 g botter
15 ml meel
125 ml melk
60 ml droë witwyn
220 g ingemaakte sampioene
2 ml tiemie
sout & peper
30 ml room
2 salotte.

Metode:
Verhit olie en botter in bakskottel.  Pak hoender in skottel en bak 35 – 40 minute in matige oond tot hoender sag is.  Borsel kort-kort met sous.  Skep sous oor hoender.

Sous:
Verhit botter in kastrol, voeg meel by en roer tot goudbruin.  Voeg melk en wyn geleidelik by.  Roer tot sous kook en dik word.  Voeg ongedreineerde sampioene, tiemie, sout & peper by en roer tot dit weer kook.  Roer gekapte salotte en room by.  Kook 1 minuut lank.