KERRIEBONESLAAI 

Rika Theron
3 porsies

Bestanddele: 
250 ml droë bone, oornag in water geweek
sout
1 ui, fyn gekap
1 knoffelhuisie, fyngedruk
olie
2 ml kerriepoeier
10 ml suiker
2 ml mosterdpoeier
100 ml mayonnaise
sout & swartpeper na smaak
2 – 3 eiers, hardgekook.

Metode: 
Giet die weekwater af, bedek die bone met skoon, koue water en kook tot sag.  Geur met sout aan die einde van die kooktyd, anders kook die bone nie sag nie.  Dreineer en laat afkoel.  Soteer die ui en knoffel in ‘n bietjie olie tot sag en glansig.  Voeg die kerriepoeier by en roerbraai nog sowat 1 minuut lank.  Verwyder van hitte en voeg die suiker en mosterdpoeier by.  Voeg ook die mayonnaise by en geur na smaak met sout en swartpeper.  Meng met die bone en skep in ‘n bak.  Sny die eiers in kwarte en plaas bo-op.  Sprinkel ‘n bietjie gekapte pieterselie oor.  Verkoel tot benodig.

 

Advertisements
 

KERRIE-EIERS  MET  MIELIES

Rika Theron
4 – 6 porsies

Bestanddele: 
1 ui, in ringe gesny
1 knoffelhuisie, fyngedruk
olie
10 ml kerriepoeier
300 ml hoenderaftreksel
sap en skil van ‘n halwe suurlemoen
30 ml blatjang
30 ml suiker
1 blik (420 g) geroomde suikermielies
15 ml koekmeelblom
sout & swartpeper
4 – 6 eiers, hardgekook.

Metode: 
Soteer die ui en knoffel in ‘n klein bietjie olie tot sag.  Voeg die kerriepoeier by en roerbraai nog ‘n bietjie.  Giet die hoenderaftreksel by en bring tot kookpunt.  Voeg die sap en skil van die suurlemoen by asook die blatjang, suiker en suikermielies.  Laat goed kook en verdik dan die sous met meelblom wat aangemaak is met ‘n bietjie water.  Voeg die eiers by en verhit tot die eiers deurwarm is.  Dien op saam met rys, piesangskyfies, blatjang en klapper indien verkies.

 

 

Ingelegde Kerrievis

Lynette Muller
Hoe langer die vis in die kerriesous bly, hoe geuriger word dit. Dit kan op sy eie ’n ligte ete wees, of dit kan voorgesit word as ’n hoofmaal met brood, botter en konfyt.

Bestanddele
1 kg stokvisstukke
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
250 ml (1 k) koekmeelblom
2 ekstragroot eiers, geklits
125 ml (½ k) kookolie
Kerriesous
3 groot uie, geskil en in skywe gesny
375 ml (1½ k) bruinasyn
60 ml (¼ k) water
45 ml (3 eetl) suiker
5 ml (1 t) borrie
10 ml (2 t) kerriepoeier
1 ml fyn paprika
4 lourierblare
8 peperkorrels
sout na smaak

Metode
Plaas visstukke in ’n bak. Indien bevrore vis gebruik word, laat ongeveer 30 minute staan om effens te ontvries. Meng geurmiddels met meel. Rol vis in die gegeurde meel. Verhit ’n braaipan met olie. Dompel vis in die geklitste eier en plaas direk in die warm olie. Braai vis vir ongeveer 5 minute aan elke kant of tot goudbruin. Verwyder uit olie en dreineer.

Sous:
Kook al die bestanddele saam in ’n swaarboomkastrol vir ongeveer 10 minute. Plaas die helfte van vis op bodem van ’n diep opdienbak. Giet die helfte van uiemengsel oor. Herhaal met vis en sous en plaas in yskas oornag sodat geur kan deurtrek.

Bediening
Bedien die vis met hotcross buns, broodrolletjies of selfs kapokaartappels.

Variasies
Vervang die stokvis deur kabeljou of enige ander vis van jou keuse. Die filette kan in enige groottes of vorms gesny word.
Kruie van jou keuse kan ook bygevoeg word. Speserye soos koljander en komyn kan ook gebruik word.

 

Kerrie Maalvleis met Klappermelk

Woumarie 

Genoeg vir: 4

Bestanddele
15ml olie
1 ui, gekap
1 duim gemmer, gerasper
1 knoffelhuisie, fyngekap
350g maalvleis
15 ml sterk kerriepoeier
15ml tamatiepasta
200ml aftreksel
200ml ertjies
200g kersietamaties, gehalveer
200ml klappermelk
100 ml vars koljander, gekap
200 ml grondboontjies, gekap
basmatirys vir voorsit

METODE:
Braai die ui in die olie tot glansed. Voeg die gemmer en knoffel by en braai vir nog ’n minuut. Braai nou ook die maalvleis tot korrelrig. Voeg die kerriepoeier en tamatiepasta by en braai vir nog ’n minuut. Roer die aftreksel en groente by en kook tot ingedamp – sowat 15 minute. Roer die klappermelk, kruie en grondboontjies by en verhit tot deurwarm. Sit voor met rys.

 

SKILLIE SE KERRIE EIERS

 

 

 

 

 

10 HARDGEKOOKTE EIERS EN AFGEDOP EN GEHALVEER.

2 X UIE IN RINGE GESNY

3 X EETLEPELS KOEKMEEL

1 X EETLEPEL BOTTER

1 X TEELEPEL BORRIE

2 X EETLEPELS KERRIE (NA SMAAK)

1 X EETLEPEL ATJAR MASALA

2-3 EETLEPELS SUIKER

2 X KOPPIES WATER

½ KOPPIE WIT DRUIWE ASYN

½ KOPPIE CHEDDAR KAAS.  (OF ENIGE STERK KAAS)

½ KOPPIE BLATJANG

1 X EETLEPEL APPELKOOSKONFYT

 

1)    BRAAI UIE TOT LIGBRUIN.,

2)    SKEP  UIT EN HOU EENKANT.

3)    OOR LAE HITTE SMELT BOTTER IN KASTROL

4)    VOEG MEELBLOM BY EN ROER TOTDAT  DIT KLONTERIG IS.

5)    VOEG NOU DIE WATER BY EN BRING TOT KOOKPUNT ,

6)     ROER TOT ‘n GLADDE TEKSTUUR VERKRY WORD.

7)    VOEG NOU DIE SUIKER BY ASOOK DIE ASYN EN BRING WEER TOT KOOKPUNT TERWYL GEROER WORD.

8)    VOEG NOU DIE KERRIE, ATJAR MASALA, BORRIE, BLATJANG, APPELKOOSKONFYT   BY DIE KOKENDE MENGSEL

9)    VOEG NOU DIE UIE BY DIE MENGSEL EN ROER DEUR.

10)    ROER NOU DIE GERASPERDE KAAS BY DIE MENGSEL.

11)    GOOI SOUS OOR DIE GEHALVEERDE EIERS EN LOS VIR 30 MINUTE OM AF TE KOEL.

12)    BEDIEN SAAM MET BRAAI VLEIS..

Resep geplaas met vergunning van Peet Mulder

Bedien saam met jou volgende braaivleis gaan nie spyt wees nie. Vra vir nog

Hierdie was op n stadium n heerlike Sondag aand ete saam met roosterbrood

 

VRUGTE-KERRIEBREDIE

Rika Theron
(4 porsies)

Bestanddele
500 g rookwors of polonie,
8 klein uitjies,
37,5 ml olie,
10 ml kerrie,
5 ml paprika,
2 piesangs,
2 appels,
5 tamaties,
125 ml water,
125 ml room,
5 ml vleissouspoeier,
12,5 ml gemengde speserye.

Metode
Sny wors in blokkies en skil uitjies. Braai in olie en voeg kerrie en paprika by. Skil piesangs en appels en sny in stukke. Voeg saam met tamatiekwarte by wors. Maak ‘n pasta met water en souspoeier, voeg by en prut tot gaar. Voeg room en speserye by en prut ‘n paar minute. Bedien met rys.

 

KERRIE PERSKESLAAI

Ingestuur deur Joey Hannekom

1 groot ui, gekap
1 groen soetrissie, gekap ( dit kan ook uitgelos word )
20g (25 ml) botter of margarien
125 ml wit asyn
25 ml witsuiker
25 ml mielieblom
5 ml kerriepoeier
5 ml borrie
1 groot blik perskeskywe

Soteer die ui en die soet rissie in die botter of margarien. Meng die asyn, suiker, mielieblom, kerrie en borrie deeglik. Dreineer die perskeskywe. Meng die kerriemengsel met die stroop, giet dit oor die ui en kook tot dik.
Proe aan sous en voeg nog smaakmiddels by, indien nodig.
Laat afkoel. Snipper die perskeskywe in ‘n slaaibak. Giet die kerrie sous oor en meng liggies.

 

Kerrie Boontjie slaai

Deur Arina du Plessis

Kerrie Boontjie Slaai

Aangesien ’n mens die slaai kan bottel, gee ek ’n groot resep, wat genoeg is vir sowat 6 flesse van 500 ml elk.

■ Ongeveer 2 kg groenboontjies
■ 3 groot uie, redelik grof gekap
■ 750 ml wit druiweasyn
■ 750 ml suiker
■ 40 ml matige kerriepoeier
■ 15 ml borrie
■ 15 ml seesout
■ 110 ml mielieblom
■ 60 ml water

Maak die groenboontjies skoon en kerf redelik grof.
Sit die boontjies en uie saam in ’n mengbak en bedek met kookwater.
Laat staan vir 10 minute en gooi die water af.
Herhaal die proses nog een keer en dreineer goed.
Verhit die asyn en suiker saam tot kookpunt.

Meng die kerriepoeier, borrie, sout en mielieblom met die water tot ’n pasta.
Voeg ’n bietjie van die warm asynmengsel daarby en roer deur.
Giet alles terug in die kastrol en verhit tot kookpunt, terwyl jy roer.
Voeg die boontjie-en-uiemengsel by die kerriesous en prut stadig vir ’n paar minute tot die boontjies net-net gaar is.

Skep die slaai in gesteriliseerde flesse en verseël onmiddellik met gesteriliseerde deksels.
Laat afkoel en bêre op ’n koel, droë, donker plek.
As jy ’n fles boontjieslaai oopgemaak het, bêre daardie fles in die yskas.
Lewer ongeveer 3 liter slaai.

Met vergunning landbou.com

 

KERRIE SKULPIE NOEDELSLAAI

BENODIG

1 X PAKKIE SKULP NOEDELS
1 X ROOI PEPER (FYNGESNY)
1 X GROENPEPER(FYNGESNY)
HANDVOL  ROSYNTJIES
SOUT
BIETJIE KOOKOLIE

BENODIG VIR DIE MARINADE
125ml BRUIN DRUIWE ASYN
125ml WATER
100ml SUIKER
5ml SOUT
45ml APPELKOOSKONFYT
45ml BLATJANG
25ml KERRIEPOEIER
5ml BORRIE.
125ml MAYONAISE

 

METODE

  • KOOK DIE SKULPIE NOEDELS SOOS PER AANWYSINGS IN SOUTWATER
  • WANNEER SO HALFPAD GEKOOK HET GOOI DIE ROSYNTJIES BY EN KOOK SAAM
  • WANNEER NOEDELS GAAR IS GOOI WATER AF EN SPOEL AF ONDER KOUEWATER EN HOU EENKANT  EN LAAT HEELTEMAL AFKOEL
  • MENG ALLES SAAM IN DIKBOOM KASTROL, BEHALWE DIE MAYONAISE
  • BRING TOT KOOKPUNT EN LAAT PRUT VIR 10 MINUTE TERWYL AF EN TOE GEROER WORD.
  • BRAAI INTUSSEN DIE PEPERS TOT GAAR, SKEP UIT EN MENG MET DIE NOEDELS EN ROSYNE HOU EENKANT
  • LAAT ALLES HEELTEMAL AFKOEL.
  • MENG DIE ½ VAN DIE SOUS BY DIE NOEDEL MENGSEL EN ROER DEUR
  • PLAAS SLAAI IN YSKAS TOT BENODIG.
  • PLAAS OORBLYWENDE SOUS IN YSKAS TOT BENODIG OF PAS AAN BY SLAAI SOOS VERLANG

BEDIEN AS SLAAI SAAM MET BRAAIVLEIS

Met vergunning van Peet Mulder