DIE LEKKERSTE SPINASIE

Woumarie

Bestanddele
2x bosse spinasie goed afgespoel en gesnipper (harde stukke verwyder)
2x uie fyn gekap
1x knoffelhuisie fyn
1x pakkie bacon fyn gekap
1x blik tamatie en ui
1x pakkie sampioen sous
2 x eiers
1x pakkie sampioen sop
feta kaas
chedder kaas

METODE:
Braai die uie en knoffel en bacon tot sag en die bacon tot bros in olie in die pan. Voeg gekapte spinasie by en sit deksel op sodat die spinasie sag kan stoom. Voeg al die ander bestanddele by behalwe die kaas en die feta. Skep lepelsvol van die spinasie in ‘n muffin pan en plaas op elke hoppie ‘n blokkie feta en ‘n blokkie chedder kaas. Jy kan biejie Italiaanse broodkrummels strooi as jy wil. Sit in ‘n vooraf verhitte oond 180°C tot die kaas begin smelt en verkleur. Kan warm of koud bedien word.

Advertisements
 

BURGER PATTIES

Lynette Muller

Bestanddele
500 g beesmaalvleis
½ ui, fyngekap
1 eier
hand vol pietersielie, fyngekap
100 g pecorino-kaas, fyngerasper (Dit is ‘n harde Italiaanse Kaas. Enige harde kaas sal werk)
100 g strepiespek (streaky), in klein blokkies gesny
sout en varsgemaalde swartpeper
45 ml olyfolie

Metode
Plaas maalvleis in mengbak. Voeg ui, eier, pietersielie, kaas en spekblokkies by. Meng goed en geur met sout en peper. Vorm agt patties en plaas op bord. Sit patties vir minstens 30 minute in die yskas voor jy dit braai. Verhit olie in pan. Braai patties tot bruin en gaar.

 

Lekkerste Sop

Rohanja

Bestanddele
1 kg sopbene
500 g stowebeesvleis, in klein blokkies gesny
3 uie, fyn gekap
5 wortels, gekap
6 selderystele, gesnipper
2 lourierblare
Handvol vars pietersielie, fyn gekap
4 liter water
Sout en peper na smaak
1 x 410 g blik gekapte tamaties
250 ml (1 k) gort
10 ml (2 t) suiker
Ekstra vars pietersielie en fyn gerasperde suurlemoenskil, om af te rond

Metode
Verhit die bene, vleis, uie, die helfte van die wortels, die helfte van die seldery, lourierblare, pietersielie, water en ’n bietjie sout en peper saam in ’n groot kastrol tot kookpunt. Bedek en prut stadig vir sowat drie uur, of tot die vleis sag is. Verwyder die bene en sit die vleis terug in die pot. Voeg die res van die bestanddele by en prut vir sowat een uur, of tot die gort lekker sag is. Geur na smaak. (Voeg ekstra water of ’n bietjie vleisaftreksel by as die sop te veel afkook.) Lewer 10 porsies.
Spek-en-bonesop

 

AARBEI-JELLIERING

Rika Theron

Bestanddele
Dreineer 1 blik ingelegde aarbeie en meet stroop. Voeg koue water by om 1 koppie te vul. Los 1 pakkie aarbeijellie in 1 koppie kookwater op, voeg aarbeistroop by en verkoel tot dit begin dik word.

Roer aarbeie in en skep in ringvorm sodat dit boom bedek. Verkoel tot styf. Los 1 pakkie lemmetjiejellie in 1 koppie kookwater op en verkoel tot dit begin dik word. Klits tot lig en skuimerig.

Voeg 125 ml Idealmelk (styfgeklop) en 1 k malvalekkers (stukkies gesny) by en meng goed. Skep bo-op aarbeijellie en laat stol.

 

Die wen melktert – met die heerlikste skilferkors deeg

TANT HELIE SE MOETS & MOENIES
• Hou alles koud terwyl jy die deeg maak, en werk vinnig en liggies om die deeg koel te hou. As daar ’n dakwaaier is, skakel aan! (Lugversorging is nog beter.)
• Jy moet glo Darling-botter gebruik en geen ander nie.
Die rede is glo dat dit die minimum water bevat sodat die deeg nie sag en klewerig is nie.
• Gebruik net die regte hoeveelheid yswater, anders sal die deeg klewerig wees en die eindresultaat taai en harderig.
• Gebruik ’n baie skerp mes om die deeg te sny, anders word die deeg gekneus en sal dit nie ’n klomp lagies vorm nie.
TANT HELIE SE SKILFERDEEG
Sy’t gesê die Hollanders het die resep van die Franse geleen!
genoeg vir 2 terte
• 450 g (800 ml) koekmeel
• 3 ml sout
• 5 ml kremetart
• 450 g yskoue botter
• ± 250 ml yswater
• 15 ml suurlemoensap
Sif die meel, sout en kremetart 2 keer saam.
Deel die botter in kwarte. Rasper ’n kwart op ’n rasper se growwe kant.
Hou die res in die yskas, asook die rasper.
Sny die gerasperde botter in die meel in met 2 messe.
Sprinkel yswater en suurlemoensap eweredig oor die meel. Meng met ’n vurk tot ’n hanteerbare deeg.
Knie en vou deeg op ’n koue oppervlak (tant Helie het ’n klein marmerbladjie gebruik)
tot dit glad en elasties is.
Klein lugborreltjies moet net onder die oppervlak sigbaar wees.
Strooi die deeg baie liggies met meel en rol dit 6 mm dik uit.
Hou dit sover moontlik in ’n reghoekige vorm terwyl dit uitgerol word.
Lig dit ook van tyd tot tyd op om seker te maak dit sit nie vas nie.
Bedek twee derdes van die uitgerolde deeg met nog ’n kwart gerasperde botter.
Vou deeg in derdes om die deel wat sonder botter is tussen die dele met botter te kry.
M.a.w. 3 lae deeg met 2 lae botter afwisselend tussenin.
Die buiterandjie moet goed vasgedruk word om al die lug binne te hou.
Begin by die een kort ent van die lang deegreghoek en vou weer in derdes.
Buiterand word weer vasgedruk.
Draai nou die deeg in ’n effens klam doek toe om te keer dat dit uitdroog.
Laat lekker koud word, maar nie hard nie. Rol weer 6 mm dik uit.
Herhaal die botter-in rasper-en-vou-storie met die volgende kwart van die botter en ’n laaste keer met die laaste kwart.
Rol ’n laaste keer uit en vou in 3 of 4 lae om ’n vierkant te vorm.
Maak toe in ’n klam doek en sit in die yskas vir ’n uur of 2. Rol nou ’n laaste keer uit.
Uitvoer van die pan
• Dit moet ’n outydse blikbord wees. Dit gelei die hitte wonderlik en die deeg onder die vulsel is nie pap nie.
• Sny die deeg 10 mm groter as die pan (bord), want dit kan effens krimp.
Voer die pan uit. Meet die rand van die tertpan en sny nog ’n strook om daarop te pas.
Borsel ’n bietjie water op die strook (nie tot teen die kante nie, anders rys dit nie mooi nie) en plaas op die rand.
(Party mense sit dit onder die ander deeg, maar tant Helie het my anders geleer.)
• Bestryk die boom met eierwit wat liggies geklits is.
Hou die tertbord in die yskas tot benodig.
MELKTERT- “PAP”
genoeg vir 1 melktert
• 42 g (75 ml) koekmeel
• 50 ml mielieblom
• 50 ml suiker
• 1 ml sout
• 125 ml melk
Plaas al dié bestanddele in ’n middelslag-mengbak en meng tot glad. Hou eenkant.
• 2 eiergele
• 25 ml suiker
• 2 druppels “egg yellow”-kleursel
• 4 druppels amandelgeursel
• 1 groot doppie vanieljegeursel (ek gebruik 7 ml)
Plaas dié bestanddele in ’n kleiner mengbak en klits tot goed gemeng.
Hou eenkant.
• 2 eierwitte
• ½ ml kremetart
• 25 ml suiker
Plaas dié drie bestanddele in nóg ’n middelslag-bakkie en hou eenkant.
Verhit jou oond tot 260 °C. Die oond-rak moet op die tweede vlak van onder wees.
PLAAS DIE VOLGENDE IN ‘N KASTROL
• 550 ml melk
• 10 ml botter
• 2 stukke pypkaneel
Sodra die oond warm is, verhit die melk, botter en kaneel tot kookpunt.
Tant Helie het gesê op háár stoofplaat verhit sy dit op 6!
Skakel die plaat af.
Voeg die warm melk by die meel-en-melkmengsel en roer tot glad.
Gooi terug in die kastrol en plaas op plaat wat afgeskakel is.
Roer die melkmengsel in die kastrol tot dit dik is – 1 tot 2 kookborrels is nodig.
Gooi melkmengsel uit die kastrol terug in die mengbak.
Verwyder kaneel.
Roer die eiergeel-mengsel by.
(Iemand moes intussen vir jou die eierwitmengsel geklits het tot nét styf; nie te veel nie, want dan is dit droog.)
Vou die eierwitmengsel in.
Gooi in jou uitgevoerde pan, strooi fyn kaneel liggies oor, indien verkies, en bak in voorverhitte oond vir 10 minute.
Verlaag die temperatuur na 200 °C vir nog 10 minute.
As dit te bruin word, plaas ’n stuk aluminium foelie liggies bo-op met die blinkkant na die element.
Sit louwarm voor.
Met vergunning van Sarie.com

Nota van Koekoes:  Om jou eie skilferkors deeg te maak is n groot werk.  Maar beslis die moeite werd. My tuisgemaakte skilferkors deeg maak ek presies hierbo.  En dit is die lekkerste skilferkors deeg wat ek nog geproe het. Ek gebruik die deeg vir my klein hoender tertjies ook.