LEMOENPOEDING

Anna Eksteen
‘n Effense variasie op die bekende Japie-se-gunsteling. Dié poeding het ‘n fyn koeklagie bo-op en baie sous onder-in.

Bestanddele
2 eiers, geskei                                                             
250ml suiker
100ml koekmeelblom
250ml melk
180ml lemoensap
15ml fyn marmelade
fyngerasperde skil van 1 lemoen
30ml gesmelte botter of margarien

Metode
Voorverhit die oond tot 180C en smeer ‘n oondbak van 20cm met botter. Klits die eiergele en suiker baie goed tot lig en dik. Voeg die meel en melk by en roer tot gemeng. Voeg die lemoensap, marmelade, skil en gesmelte botter of margarien by. Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou in. Skep in die gesmeerde bak en plaas in die groter oondbak. Vul met water tot driekwart vol. Bak vir 45 minute tot goudbruin. Laat effens afkoel en sit voor. Bedien 6 mense.

Advertisements

Gebakte Bruinpoeding

Jan van Niekerk
Lewer 12 porsies
Maak 4 van die poedings vir 48 porsies of 2 van 24 porsies elk

Beslag
5 ml Koeksoda
125 ml Melk
375 ml Bruismeel
125 ml Witsuiker
2 Eiers
40 ml Appelkooskonfyt
25 ml Sagte botter
1 ml Sout
5 ml Fyn gemmer

Sous:
250 ml Water
250 ml Room
125 ml Botter
125 ml Suiker
5 ml Vanieljegeursel

Karamelvla:
600 ml Vla
5 ml Karamelgeursel

Metode:

Berei die beslag deur die koeksoda in melk op te los. Sif meel en voeg saam met die res van die bestanddele by die melk. Meng tot ‘n gladde beslag. Giet in ‘n oondbak van 2 liter-volume. Bak in voorverhitte oond by 180°C vir 30 minute.

Verhit die sousbetanddele saam tot kookpunt. Giet die warm sous oor die poeding sodra dit uit die oond gehaal word. Geur die vla met die karamelgeursel en sit voor saam met die poeding. Lewer 12 porsies.

PERSKEPOEDING

Anna Eksteen

Bestanddele
500ml koekmeelblom
2ml bakpoeier
knippie sout
250ml witsuiker
25ml botter
12 ingemaakte perskehalwes
5ml fyn kaneel
250ml suurroom
2 eiergele

Metode
Voorverhit oond tot 180C. Smeer ‘n vlak oondskottel met botter. Sif koekmeelblom, bakpoeier, sout en 25ml suiker saam. Vryf die botter in die mengsel (lyk soos brood krummels). Pak krummels in ‘n laag op die boom en langs die kante. Rangskik die perskes mooi daarop, gooi die res van die witsuiker gemeng met die kaneel oor.Bak 15 minute en gooi dan die suurroom gemeng met die eiergele oor. Bak 30 minute. Bedien warm of lou met ‘n dun vla.

KOEJAWEL-EN-KLAPPER-KRUMMELPOEDING

Anna Eksteen

Bestanddelle
8 koejawels, geskil en in kwarte gesny
140ml strooisuiker
5ml vanieljegeursel
60ml strooisuiker
125ml koekmeel
110ml koue botter
250ml klapper
100g amandelvlokkies

Metode
Verhit oond tot 180C. Meng koejawels, 140ml strooisuiker en geursel in ’n mengbak. Skep in ’n gesmeerde oondbak van 30cm. Meng 60ml strooisuiker en meel in ’n mengbak. Vryf botter daarby in totdat dit soos broodkrummels lyk. Voeg klapper en amandels by en meng. Skep mengsel bo-op die koejawels en bak vir sowat 40 minute tot bros en goudbruin. Sit voor saam met room. Lewer 6 porsies.

BOEREJONGENS:

Anna Eksteen

Bestanddele en Metode

Verhit 500g rosyne, 250ml water, 200g witsuiker en 1 stokkie pypkaneel stadig saam tot kookpunt en roer dit aan die begin om die suiker te laat oplos. Kook dit vir 10 minute oor matige hitte. Giet die stroop af en  en plaas die rosyne in warm glasflesse. Vul die flesse met skoon brandewyn of om die helfte stroop en die helfte brandewyn.

Bedien met roomys.

Broodpoeding

deur Barbara Joubert
Diabeties Vriendelik

(4 porsies)
6 snye lae-GI brood
15 ml laevet margarien
30 ml appelkooskonfyt vir diabete
100 ml rosyne
300 ml laevet melk
4 eierwitte
30 ml suikervervanger
5 ml fyn kaneel
5 ml vanieljegeursel
knippie sout

Verhit jou oond tot 180 °C. Spuit ’n oondbak van 20 cm x 20 cm met nie-kleefmiddel. Smeer die brood liggies met die margarien en konfyt. Sny die brood (met korsies aan) in kwarte. Meng die broodkwarte en rosyne in die oondbak. Klits die orige bestanddele saam en gooi oor. Bak vir 55 – 60 minute tot gestol.

Vla (dik vla vir poeding)

Bestanddele
1 liter kookwater
300ml cremora poeier
30g blossom lite margarine
110ml suiker
5ml sout
100ml vlapoeier
5ml vanilla

Metode
Voeg die 1ste 6 bestanddele saam in ‘n kastrol en kook. Maak vla met 125ml koue water aan en voeg by. Roer gedurig. Verwyder van stoof wanneer dit dik is en voeg vanilla by.

Wynsous

Bestanddele
150 g Suiker
250 ml Water
25 ml Botter
3 Eiers
125 ml Soetwyn

Metode
Plaas suiker en water in ‘n kastrol en roer oor matige hitte tot suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en kook vir 15 minute tot stroop konsistensie. Voeg Botter by en roer tot gesmelt. Voeg geklitste eiers by en meng goed. Roer oor matige hitte tot goed warm en sit voor saam met poeding.

AARBEI ROOM

Annetjie Cilliers

Bestanddele
500g aarbeie
200ml strooisuiker
20ml gelatien
50ml water
2 eierwitte
400ml room (geklits)
geklitste room en aarbeie vir versiering

Metode
Sny aarbeie skoon, was en sny in skywe. Strooi strooisuiker oor en laat 30 minute staan sodat sappe kan trek. Puree in vermenger tot glad en giet in bak. Maak gelatien in water sag, los oor lae hitte op en roer oor aarbei puree in. Hou eenkant totdat dit begin verdik. Klits eierwitte styf met ‘n knippie sout en vou in saam met room. Giet in vorm en verkoel tot gestol. Keer uit vorm en versier met ekstra geklitste room en aarbeie.

Vleisbraai Appels

AGS Emmanuel Gemeente

Bestanddele
6 Appels
75 ml Botter
115 g Gekapte Dadels
25 ml Bruinsuiker
5 ml Kaneel

Metode
Ontpit appels sonder om deur te sny of te skil. Meng res van die bestanddele. Stop die appels met die mengsel. Draai appels afsonderlik toe in foelie. Braai 20 min oor kole tot sag.

Wenk
‘n Skeppie roomys saam met die appels behoort goed af te gaan.