Katima Molilo

Katima Molilo

Met my uitgebreide kennis van radio’s en radio prosedures was ek gelukkig gewees om oor geplaas te word na die OPS Kamer toe. In die ops kamer het ons al die radio boodskappe ontvang en
geliasseer in verkillende kategorie en afdelings.

In die oggende is daar vergadering gehou deur die offisiere en waar die leërs en inligting nagegaan is. Dit is nou maar net in ʼn neutedop wat hier aangegaan het. Ons regiment was uitgeplaas en so hier en daar in Katima was van ons mense gewees. So ek was maar alleen in die vreemde see van die basis gewees.

Nou ʼn ander ding. Ek het sommer so van die begin af gesê of gevolunteer om in die aande te werk. Aandskof het sewe uur in die aand begin en sewe uur in die oggend opgehou. Dit was lekker.
Daar was altyd twee mense op diens gewees deur die nag. ʼn Offisier en natuurlik ek. Die radio kamer waarvan ons die berigte gekry het, was in ʼn aparte kamer reg langs ons groot kantoor gewees.

Ons het in die aande geëet en dan eers weer ontbyt in die oggende. Daarna het ons gaan stort en gaan slaap. Baie keer het ons deur die middagetes geslaap. In die aande so teen 12 uur word mens
lekker honger. In so groot basis soos Katima werk die kokke dag en nag. Een aand vra ek die luitenant of ek kan kombuis toe.

Daar aangekom verduidelik ek aan die kokke wat nou eindelik ons probleem is. Hulle kyk my so aan en se ok ek kan vat net wat ek wil en self gaarmaak, want hulle het nie lus om vir ons kos te maak
nie. So gesê so gedaan. Dit was lekker om in so ʼn kombuis te werk. Een aand is dit fillet gebraai in botter, of die ander aand is dit T-bones met chips. Partykeer toebroodjies. So het ek aangegaan. Elke aand twaalf uur het ek ingeklok in die kombuis en so rukkie later het ek en die luitenant heerlik geëet.

In enige basis is daar drie menasies. Een vir offisiere, een vir onderoffisiere en een vir die troepe. Soos met ontbyt het die troepe bv. pap, toast en eiers gekry. Die onderoffisiere het dieselfde gekry met gebakte tamaties, verskillende konfyte en miskien geurige maalvleis.

Die offisiere het die hele spread gebry met ʼn stukkie steak, gebraaide mushrooms, keuse van gekookte of gebraaide eiers. So het dit gegaan. Ek moet sê die kos in Katima was nogal baie lekker
gewees. Niemand het honger gely nie.

In die oggende as ons van diens afgekom het, het ek en die offisier saam afgeloop menasie toe. Teen die tyd wat ons afgekom het, het die basis se mense al klaar geëet en die menasie was leeg gewees. Baie keer het die offisier my genooi om saam met hom te gaan ontbyt eet. Dan het ons behoorlik weggelê aan die kos. Daar was geen beperkinge aan die hoeveelhede wat ons kon eet
nie. Want alles wat oorgebly het, kon ons skep en weer skep. Ons het genoeg geët om ons te help oor middag ete wat ons nie moontlik sou eet nie.

Advertisements
 

Die Derde Maal

Die Derde Maal

Na so twee jaar kom die bleddie amptelike koevert weer daar by ons aan. My dogter was ses maande oud gewees.

Net voor die kamp besluit ek en my vrou dat ons so bietjie gaan vakansie hou in Durban. Ons bespreek plek in een van die vakansie woonstelle en kry een op die 10de vloer. Die een aand kruip ek in die bed in. My vrou sit ons dogter so tussen ons twee. My vrou blaai deur ʼn tydskrif en wys so die prentjies vir my dogter.

So raak ek aan die slaap, en droom een vieslike droom. Ek droom en herleef weer die aanval op Ruacana. Maar baie erger, want ek droom dat die MPLA se soldate die kamp omsingel het. My vrou
skuur met die tydskrif teen my arm en ek word wakker en vlieg op. Uit volle bors begin ek skreeu en hardloop na die woonstel se venster toe. Ek ruk en pluk aan die venster om die venster oop te maak. Ek wil net uit en weg kom van die aanval af. Ek is bang en skreeu al hoe harder. Gelukkig praat my vrou en ek skrik wakker, nog met my hande doening by die venster. Gelukkig kon ek nie die venster oopkry nie, anders het ek definitief by die venster uitgespring.

ʼn Paar weke na die vakansie is ek weer op ʼn Flossie (vliegtuig) Suidwes toe. Hierdie keer gaan ons Katima Molilo toe. So word daar aan ons vertel. Met die afwesigheid van kajuitpersoneel en drankies en eetgoed was die vlug nie te sleg gewees nie. Toe dit tyd raak om te land begin die strooi. Die vliegtuig vlieg in sirkels al laer. Hel dit was beslis nie lekker gewees nie. My maag het in my keel gesit.

Daar uitgeklim gaan ons na ʼn basis so ent van die lughawe af vir ons week se oriëntering. Katima lê langs die rivier. Regoor ons is Zambia. Daar is ook ʼn dorp aan die oorkant van ons gewees.
Sowat ʼn jaar voor ons daar aangekom het, op 23 Augustus 1978 het Swapo die een aand die basis aangeval. Agt of nege van ons soldate is daar doodgeskiet. Al die Soldate was van 2 SDB (2 Spesiale Diens Bataljon). Hulle het teenstrydig met hulle opleiding nie in die loopgrawe gaan skuiling soek nie. Toevallig was daar ook ʼn radio joernalis van die Sauk ook daar gewees.

Toe die eerste 122mm missiel die basis tref hardloop die joernalis en sit sy bandopnemer op die bomskuiling se dak en so kry die weermag ook ʼn klankbeeld van die aanval. Die volgende dag of kan
ook nog dieselfde aand wees het die weermag ook nog honderde foto’s van die aanval geneem.

Die foto’s en die klankopname is as deel van ons oriëntasie aan ons gewys. Eers het ons na die klankopname geluister. Tussen die mortiere word daar hardop gebid, God word vervloek, manne wat
skreeu om hulp, manne wat hard sit en huil. ʼn gekreun en gekerm oral waar jy kan hoor.

Maak nie saak wie of wat jy is nie, om sulke dinge te hoor is nie maklik nie. Nou word die foto’s rondgestuur. Een foto wat ek altyd sal onthou is ʼn foto van ʼn lyk in ʼn boom. Die een helfte van die man se kop is weggeskiet. Daar kom so ʼn haat en woede in jou op wat nooit, nooit verlaat nie.

Een van die offisiere het iets gesê soos “Sien julle wat die blerrie mense doen aan ons mense” . Met die beeld en klank nog vars n ʼn mens se geheue en met die woorde kan jy nie anders as om al wat swart is te haat nie.

So begin ons, ons derde kamp.

 

Die GO Carts

Die Go-Carts

Nou het ek mos al aan julle vertel van die Go-Carts. Sulke rye donker groen plastiese toilette wat oor slote gesit word, waar mens nou rustig sit en die natuur sy gang kan laat gaan.

Maar daar is niks romanties daaraan nie, want gewoonlik is daar meer as een mens daar, en dit is nou nie juis so lekker menslik om te sit en kyk hoe ʼn ander man sit en sy sake doen nie.

Nou dit is warm daar. Seker so oor die veertig grade. Nou al die gemors wat omtrent kook daaronder, is daar natuurlik baie brommers. Alles word probeer om die brommers in beheer te bring. Kalk, grond, chemikalieë en wat nog weet ek nie.

Een van die medics kry toe ʼn briljante idee. Hoekom gooi hulle nie Diesel in die slote nie. Baie goeie idee en hulle gaan haal so ʼn paar liters diesel en gooi in die slote. Weg is die brommer en almal
wonder net weer vir hoe lank gaan hulle nou wegbly.

Niemand dink daaraan dat die diesel saam met die stront eindelik ʼn ramp kan veroorsaak nie. Daar is nie eers so halwe gedagte by iemand nie. Niemand doen iets en se vir iemand anders van die diesel in die slote nie.

Die een troep gaan skuif homself so reg om daar lekker te sit en te lees. Hy haal ʼn sigaret uit steek hom aan met vuurhoutjies en gooi die brandende vuurhoutjie tussen sy bene in die sloot af. Een moerse ontploffing.

Die medics het die man net so van die Go-Cart afgetel en na die hospitaal tent toe gedra. Deel van sy bene en gat is verbrand. Die ongeluk het in die laaste twee weke van ons kamp gebeur. Nadat die man so op ʼn manier kon loop, het hy met ʼn handdoek om sy lyf rondgeloop. Hy kon nie broek en onderbroek aantrek nie.

Ek dink hy is so met die handdoek om die lyf huis toe. Arme blikskottel.