PATAT IN FOELIE

Lynette Muller

Benodig vir elke persoon

Bestanddele
1 middelslag-patat
sout na smaak
1 eetlepel heuning
’n knippie kaneel

MAAK SO:
Spoel die patat af en sit dit in dik foelie. (Moenie die patat afdroog nie.) Strooi ’n knippie sout oor en maak die patat heeltemal toe met die foelie. Sit die patat in warm kole en bak dit vir sowat 10 minute aan elke kant. Steek nou ’n mes of ’n stokkie in die patat. As hy tot diep binne-in sag is, is jou kos gaar. Haal die patat uit die kole en skeur die foelie oop. Druk dit oop, gooi ’n bietjie heuning oor en sprinkel kaneel bo-oor. Eet saam met tjops of vis. Wees versigtig vir die warm stoom wanneer foelie oopgemaak word!

Advertisements
 

HERDERS PASTEI MET BOTTERSKORSIE BOLAAG

Woumarie

BESTANDELE:
10 ml (2 t) olyfolie
750 g maer maalvleis
1 ui, gekap
15 ml (1 e) koekmeel
5 ml (1 t) Worcestersous
45 ml (3 e) tamatiepasta
250 ml (1 k) vleisaftreksel
30 ml (2 e) gedroogte gemengde kruie
200 g bevrore groente, bv. ertjies, boontjies, wortels en mielies
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 aartappels, geskil en in blokkies gesny
500 g botterskorsie of pampoen, geskil en in blokkies gesny
30 ml (2 e) botter
Gemaalde neutmuskaat

METODE:
Verhit die olie in ʼn groot kastrol en verbruin die vleis in twee sarsies.
Soteer die uie en skep die vleis terug in die kastrol.
Roer die meel, Worcestersous, tamatiepasta, aftreksel en kruie by en verhit dit tot kookpunt.
Verlaag die hitte en prut 30 minute of tot die vleis gaar is.
Roer die groente by en geur na smaak.
Voorverhit die oond tot 180˚C.
Kook intussen die aartappels en botterskorsie of pampoen in ʼn bietjie water tot gaar.
Dreineer die vloeistof en druk die groente fyn om soos kapokaartappels te lyk.
Roer die helfte van die botter by en geur na smaak.
Skep die vleis in ʼn oondbak en versprei die kapokmengsel egalig bo-oor.
Stip dit met die orige botter, strooi die neutmuskaat oor en bak dit 30-40 minute of tot goudbruin.

 

Heuning PatatWieletjies

Jan van Niekerk
RSG

Bestanddele
Patats
Heuning
Botter

Metode
Maak die patats, met sy skil, gaar in die mikrogolf of kook tot gaar. LET WEL: Dit moet steeds hard wees. Laat die patats afkoel en sny dit in wieletjies. Braai die wieletjies goudbruin in gesmelte botter en heuning.

 

PATAT- EN VRUGTESKOTTEL

Rika Theron

(6 – 8 porsies)

Bestanddele
25 ml botter,
6 piesangs in ringe gesny,
500 g patats, geskil en in ringe gesny,
sout,
3 appels, geskil en in skyfies gesny,
paprika,
suurlemoenpeper,
amandels vir garnering.

Metode
Smeer ‘n vuurvaste bak met botter en pak patats, piesangs en appel in lae daarin. Geur. Plaas ‘n paar klontjies botter bo-op en sprinkel amandels bo-oor. Bak 20 – 30 minute (160°C) tot patats sag is. Sit voor as bykos by wildsvleis.

 

Herderspastei met patat-bolaag

Ingestuur deur Joey Hannekom

genoeg vir 4
6 patats, geskil en in skywe gesny
60 g (75 ml) botter
sout en swartpeper
30 ml olyfolie
1 kg maer maalvleis
1 ui, fyngekap
400 g bruin sampioene, fyngekap
2 groot wortels, geskil en fyngekap
2 stingels seldery, fyngekap
500 ml beesaftreksel
50 g (60 ml) koekmeel

Verhit oond se rooster-element. Kook patats in ’n kastrol tot sag. Dreineer water en plaas terug in kastrol. Voeg botter by. Druk fyn met ’n vurk en geur met sout. Verhit olie in ’n diep kastrol. Braai maalvleis oor hoë hitte tot bruin en gaar. Voeg ui, sampioene, wortel en seldery by en braai nog 5 minute. Voeg aftreksel by en kook oop vir 15 minute. Voeg meel by en roer goed deur met houtlepel. Geur met sout en peper. Skep uit in opdienbak. Skep patat bo-op vleis en maak gelyk met lepel. Plaas onder warm element en bak sowat 10 minute. Sit warm voor.

 

PATATKOEKIES

PATATKOEKIES ipv Pampoenkoekies

500 ml fyn, gaar patat
125 ml koekmeelblom
2 eiers
olie vir vlakbraai


Meng die gaar patat en meel goed.

Klits die eiers saam en voeg dit by die patat.

Meng tot ‘n sagte deeg.

(Indien dit te styf is, kan ‘n bietjie melk bygegooi word.)

Verhit die olie in ‘n kleefvrye pan en braai lepelsvol van die deeg daarin tot gaar en goudbruin.
Bedien warm met kaneelsuiker, heuning en suurlemoen.

Met vergunning van Karel de Beer op Facebook

 

PATATKOEK

(HUISGENOOT WENRESEP)
500 ml suiker                                                           
375 ml sonneblomolie
60 ml kookwater                                                    
4 eiers, geskei
525 ml koekmeel                                                   
15 ml bakpoeier
5 ml fyn kaneel                                                       
5  ml fyn neutmuskaat
1 ml sout                                                                   
375ml geskilde, grofgerasperde patats
250 ml gekapte okkerneute                               
 5  ml vanieljegeursel
Vulsel en versiering:
60 ml botter, by kamertemperatuur
250 g (halwe pak) versiersuiker, gesif
125 ml fyn maaskaas
125 ml fyngekapte okkerneute en ‘n bietjie fyn kaneel vir versiering
Verhit oond tot 180ºC.  Smeer twee laagkoekpanne van 23 ‑ 25 cm deursnee, strooi ‘n bietjie meel in en skud die oortollige meel uit of bespuit die panne met kleefwerende sproei.
Klop die suiker en sonneblomolie tot romerig.  Voeg die kookwater by en hou aan klits tot al die water ingeklits is.  Roer die eiergele by. Sif die koekmeel, bakpoeier, kaneel, neutmuskaat en sout saam en roer dit by die suikermengsel.  Voeg die patats, okkerneute en vanieljegeursel by en meng.  Klits die eierwitte tot styf en vou dit liggies met ‘n metaallepel by die deeg in.  Skep dit in die panne en bak dit 25 ‑ 35 minute tot gaar.  Keer die koeklae op ‘n draadrak uit en laat dit afkoel.
Meng die botter of margarien en versiersuiker baie goed saam, die mengsel is droog.  Vou die maaskaas daarin net tot gemeng.  Smeer dit op elke koeklaag.  Plaas die koeklae op mekaar.  Strooi okkerneute om die rand en sif ‘n bietjie kaneel in die middel.  Hou die koek in die koelkas.