Polenta Broodjie

Rohanja

Bestanddele
500ml polenta
250ml koekmeelblom
2.5ml sout
5ml bakpoeier
2 eiers, geklits
125g botter, gesmelt
50ml heuning
250ml karringmelk
papawersaad om oor te sprinkel

Metode
Voorverhit die oond tot 200C. Voer ‘n brood pan uit met papier en smeer. Meng die droë bestanddele. Voeg eiers, botter, heuning en karringmelk by en roer tot net gemeng. Skep in brood pan en sprinkel papawersaad oor. Bak vir 35 minute. Keer uit en laat afkoel.

Advertisements

Polenta

Alles wat jy met Polenta doen kan jy doen met PAP.

Polenta is vir baie van ons ’n vreemde woord, alhoewel meeste van ons dit (of ’n soortgelyke produk) al van kleintyd af ken.  Polenta is die Italiaanse naam vir ’n soort mieliemeelpap wat as stapelvoedsel in die bergagtige dele van Italië geëet word.  Die Italianers beskou dit allermins as “pap”.  Geregte wat van polenta gemaak word, word volgens tradisie tot twee maal per dag in sommige dele van Italië geëet.  Dit kan op ’n verskeidenheid van maniere voorgesit word.

Die spesiale soort geelkleurige, growwe, mieliemeel word in kookwater (of melk en water gemeng) met sout gekook tot dit ’n dik, gladde, pap vorm.  Wanneer dit gaar is, word dit op ’n groot houtplank uitgegooi, effe platgedruk en gelaat om af te koel.  Wanneer dit koud is en gestol het, word dit in vorms of skywe gesny en verder gebruik volgens spesifieke resep en aanduidings.

In Suid-Afrika word polentameel by gesondheidswinkels ook verkoop.  Indien nie verkrygbaar nie, kan growwe, geel mieliemeel gebruik word.

Basiese Polenta
1600ml water (of melk en water)
15ml sout
400g polentameel (of growwe mieliemeel)

Metode
Laat water en sout in ‘n swaarboomkastrol kook.

Voeg die meel stadig by terwyl aanhoudend geroer word.  ’n Elektriese handmenger kan ook gebruik word.  Roer tot ’n gladde mengsel.  Verminder die hitte en laat stadig kook vir 40 minute.

Die mengsel kook dik en trek weg van die kante van die kastrol.  Pasop vir aanbrand!

Keer die gekookte polenta uit op ’n houtplank, druk effe plat, bedek met ’n skoon doek en laat afkoel.  Sny in skywe of druk uit in vorms.

Polenta met tamatiesous en parmesaan
Kook ’n sous van vars tamaties en geur met Italiaanse kruie of verpulp 2 blikkies All Gold tamatie-en-uiesmoor en geur met Italiaanse kruie.

Druk die warm polenta op die houtplank plat tot ongeveer 150 mm dik.

Wanneer die polenta afgekoel en stewig is, druk met ’n koekiedrukker ronde koekies uit.

Druk randstukkies weer bymekaar en druk vorm uit tot alles opgebruik is.

Pak die vorm in ’n oondvaste bak en strooi ’n ruim hoeveelheid varsgerasperde parmesaankaas bo-oor.

Bedek met tamatiesous en strooi weer parmesaankaas bo-oor die tamatiesous.

Bak by 200 °C vir 20 – 30 minute.

Polenta met songedroogde tamaties en kaas
halwe hoeveelheid van basiese polenta – gekook
50g botter
6 – 8 songedroogde tamaties in olie (in repies gesny)
200g cheddar-kaas (gerasper)

Metode
Voeg die botter by die warm polenta en roer tot dit smelt.
Voeg die kaas en die tamaties by en geur na smaak.
Plaas in ’n gesmeerde, ronde bakskottel en bak vir 40 minute by 190 °C.  Bedek met ekstra gerasperde kaas en plaas onder die oondrooster tot kaas gesmelt is.  Bedien warm.

Variasies van basiese polenta
Druk vorm uit polenta wat reeds met kaas en tamaties gemeng is of sny in blokkies met ’n skerp mes. Rol die vorms of blokkies in meel of vars broodkrummels. Verhit ’n bietjie olie in ’n pan en braai oor matige hitte tot ligbruin en bros aan die buitekant. Hanteer versigtig, aangesien dit kan breek.  Dreineer op kombuispapier en bedien warm. Basiese polenta kan ook aangewend word in ’n gereg soortgelyk aan lasagne. Gebruik dun skyfies polenta (sny dit met ’n garedraad) in plaas van pasta in lae tussen die bolognaise-sous en die kaassous. Braai dun skywe basiese polenta in botter met 4 – 6 fyngemaakte knoffelhuisies in. Bestrooi met parmesaankaas en rooster onder die oondrooster tot kaas gesmelt is.  Mozzarellakaas kan ook gebruik word.

Leeukoppe

Leeukoppe (groot frikkadelle) op ‘n bed van Polenta met ‘n romerige sampioensous en gebraaide koolslaai

Frikkadelle
800 g maalvleis
1 ui
10 ml knoffel
15 ml Worchestersous
15 ml blatjang
1 Nulaid eier, geklop
60 ml rosyntjies
60 ml dennepitte
Handvol basiliekruidblare
10 ml mosterdsade

Polenta-vierkante
300 g polenta
500 ml beesaftreksel
500 ml water
3 tiemiestokkies
5 ml gemengde kruie
2 ml swartpeper
15 ml botter

Gebraaide rooikool
350 g rooikool
15 ml botter
2 ml peper
5 ml vinkelsade
80 ml rooiwyn
50 ml asyn
15 ml suiker

Sampioen- en mosterdsous
300 g wit knopie-sampioene, gekap
5 ml knoffel
1 ui, gekap
500 ml room
10 ml mielieblom
15 ml mosterd
15 ml botter

Metode:
Metode vir die Frikkadelle:
Meng al die bestanddele en maak groot frikkadelle daarmee. Bak in die oond teen ongeveer 180 grade celsius.

Metode vir die Polenta:
Kook die aftreksel, water, gemengde kruie, tiemietakkies en swartpeper. Voeg die polenta by en kook tot gaar. Gooi dit in vierkantige bakkies en laat stol. Haal die vierkante uit en braai in ‘n bietjie botter tot goudbruin.

Metode vir die gebraaide Rooikool:
Braai die vinkel en swartpeper in ‘n pan met ‘n bietjie botter vir 2 minute. Gooi die rooikool by en braai vir nog twee minute. Voeg die res van die bestanddele by en kook tot die kool gaar, maar steeds krakerig is.

Metode vir die Sampioen- en mosterdsous:
Braai die uie en knoffel in botter. Voeg die sampioene by en braai tot gaar. Voeg die room, mielieblom en mosterd by en laat prut tot dit verdik.

POLENTA BROODJIE:

Anna Eksteen

Bestanddele
500ml polenta,  250ml koekmeelblom
2.5ml sout,   5ml bakpoeier
2 eiers, geklits       125g botter, gesmelt
50ml heuning             250ml karringmelk
papawersaad om oor te sprinkel

Metode
1. Voorverhit die oond tot 200C.
2. Voer ‘n broodpan uit met papier en smeer.
3. Meng die droë bestanddele.
4. Voeg eiers, botter, heuning en karringmelk by en roer tot net gemeng.
5. Skep in broodpan en sprinkel papawersaad oor.
5. Bak vir 35 minute.