BILTONG, KAAS- EN UIE-POTBROOD

Anna Eksteen

Bestanddele
500g bruismeel                                                             
1 bier
1½ koppies gerasperde Cheddarkaas                            
250ml fyn (nat!) biltong
125ml fyn, bruingebraaide uie

Metode
Meng die meel en bier goed. Voeg 1 koppie kaas, die biltong en ui by en meng alles saam. Plaas dit in jou gesmeerde pot en bedek met die res van die kaas Bak tot gaar. Toets met ‘n skoon mes of totdat hy onderkant mooi hol klink. Eet warm met plaasbotter en konfyt

VARIASIES:
(Sonder die biltong en uie)
‘n Pakkie droë, bruin uiesop.
‘n Eetlepel of twee Marmite of Frey Bentos.
Neute en rosyne.
Spek (brosgebraai en gekrummel)
Olywe, kappers en ansjovis
Baie vars knoffel en pietersielie; gemengde kruie van jou keuse.

Advertisements

POTBROOD:

Lynette Muller
[EEN RESEP MET 6 VARIASIES – WAT MEER KAN JY VRA?]

Bestanddele
6 koppies witbroodmeel
2 pakkies gis
10ml sout
10ml suiker
2 koppies louwarm water (dit help met die gis proses wat die deeg laat rys)
knerts melk
knerts botter

MAAK DAN SO:
Smeer platboompot en deksel met botter.
Meng alles bymekaar en knie tot jy ‘n eenvormige deeg het.
Plaas in pot en laat rys tot die deeg lekker geswel het.
Knie weer en bak die brood oor matige kole, onthou kole op die deksel.

ALTERNATIEF: #2
Bogenoemde mengsel met kaas en bits o bacon. Meng met al die ander bestandele.

ALTERNATIEF: #3
Bogenoemde mengsel met biltong. Weereens meng met ander bestandele.

ALTERNATIEF: #4
Bogenoemde mengsel met ‘n tamatie en uie mengsel bo-oor deeg.

ALTERNATIEF: #5
Bg mengsel moet uitgerol word soos ‘n pizza. Plaas pizza deeg in pot sodat dit oor die kante hang.
Plaas een laag hoenderstukke in pot, met bits o bacon, opgekapte mushrooms, uie etc na aanleiding van geur. Vou dan die res van die pizza deeg wat oor die kante hang sodat dit half soos ‘n pastei lyk.
Hierdie brood / hoender konkoksie sal so 2 ure neem ten minste.

ALTERNATIEF: #6
Instede van ‘n hele brood kan jy bolletjies rol uit die deeg en dit plaas in die pot – dus kry jy buns en nie ‘n brood nie. Ek volg nooit presies afmetings nie. Ek gooi als by so met die oog en soos ek goeddink…so los die maatbeker by die huis. Daar is baie ander bestandele om by te voeg asook plaasvervangers soos bruinbroodmeel etc, gebruik bietjie die grysstof tussen die ore…

Potbrood met Maalvleis

Ingestuur deur Jan van Niekerk

Bestanddele
1 Potbrood
1 kg Beesmaalvleis
500 g Varkmaalvleis
10 Mediumgrootte aartappels, geskil e blokkies gesny
3 ml Sout
2 ml Neutmuskaat
60 ml Botter
250 ml Melk
3 Groot tamaties in skywe gesny
3 Groot uie, gekerf
10 ml Varsgemaalde swartpeper
5 ml Sout
5 ml Origanum
125 ml Gerasperde kaas

Metode:
Verhit die olie in ‘n platboompot en braai die ui vir 5 minute. Voeg die vleis en ander bestanddele by en prut vir 20 minute. Kook intussen die aartappel in die 3 ml sout en water vir 15 minute. Dreineer en voeg die melk, botter en neut by en druk goed fyn. Sny die kors van die potbrood af en hol dit uit. Skep die vleis in die brood en smeer die fynaartappel bo-oor. Rangskik die tamatieskywe op die aartappel en strooi die kaas bo-oor. Plaas die pot se deksel op en pak ‘n paar kole op die deksel, Bak oor matige kole vir 20 minute. Lewer 8 ruim porsies.

Boeta se Brood

Hi Liplekker Resepte!!
 Boeta se Brood 100_1776 100_1741 100_1735
Hierdie brood het nie n resep nie. Hy was regtig n POTLUCK want ons het nie geweet wat uit die pan gaan kom nie.
Die rede hoekom ek vir julle die foto’s stuur, is eintlik te goed om waar te wees.
Ek het klaargemaakte deeg by die Spar gekoop die  Dinsdag aand, en dit in die yskas gesit met die plan om Woensdagoggend n broodjie te bak…….en so raak ek besig …..
Die Sondagmiddag  daarna, 5 dae later,  krap my man Boeta in die yskas en ontdek die plastieksak met die deeg in wat BAIE plat was.
Ek was natuurlik dadelik in die moeilikheid, want ons probeer regtig om nie met kos te mors nie.
“O” se ek toe ter versagting    “ ek toets eintlik hoe lank winkeldeeg hou” (my vingers was agter my rug gekruis).
Boeta knie toe die deeg nadat hy daaraan geruik en goedgekeur het, vorm dit en sit dit eenkant in n gesmeerde broodpan vir so driekwart uur. Nogal redelik gerys ook.
Bak dit toe vir 40 minute by 175 grade en Voila! Kyk hoe lyk die brood!
Die tekstuur buite om was amper soos Ciabatta en het ook die kenmerkende “suurdeeg” reuk gehad. Binne was die tekstuur sag, nie lig nie, maar heerlik.
As ek weer winkeldeeg koop, gaan dit beslis weer n paar dae in die yskas deurbring voor brood gebak word!
Verskoon my onkunde, maar ek het nie gedink dat  deeg so lank sou hou nie. Ek weet wel suurdeeg plantjies word vir jare en jare lewendig gehou?
Ek sal kommentaar van die lesers waardeer.
Vriendelike Groete

Potbrood

Bestanddele
15 ml korrel suurdeeg of een suurdeegkoekie
10 ml Suiker
250 ml Louwarm water
1,2 k witbrood meel
10 ml sout
100 g Hawermout
15 ml Kookolie
2 koppies louwarm water

Metode
Meng suurdeeg, suiker, 250 ml water en 30 ml meel saam en laat 10 minute staan. Sif res van die meel en sout saam en voeg hawermout en dan suurdeeg mengsel en olie by. Giet ekstra 500 ml water bietjies vir bietjies by om ‘n redelike stywe deeg te vorm. Knie deeg weer en vorm ‘n ronde brood en plaas in ‘n goed gesmeerde, plat gietyster pot. Bedek en laat staan naby aan kole om weer te rys. maak ‘n holte in die grond, voer uit met matige kole en plaas pot op die kole. Plaas ‘n paar kole op die deksel om te verseker dat die hitte egalig versprei. Bak ongeveer 1 uur tot gaar.