ROLKOEK (KNUPPELDIK)

 

 

4 eiers, geskei                                                         
50 ml koue water
250 ml strooisuiker                                                
250 ml koekmeel
5 ml bakpoeier                                                        
knippie sout
5 ml vanieljegeursel                                             
150 ml fyn appelkooskonfyt
Smeer rolkoekpan van 30 x 40 cm, voer dit met waspapier uit en smeer papier ook.  Bestuif met bietjie koekmeel en skud orige meel van papier af.
Stel oond op 200°C en plaas oondrak in middel van oond.
Klits eiergele, water en strooisuiker baie goed saam tot bleekgeel en sponsagtig dik. Sif meel en bakpoeier saam en vou bietjiesgewys met houtlepel in mengsel in.  Klits witte en sout saam net tot stywe punte vorm.  Roer bietjie van die eierwit by die eiergeelmengsel en vou res van liggies in.  Skep deeg in pan en smeer gelyk.  Bak 10 minute.  Keer uit op klam doek wat met suiker bestrooi is.  Trek papier versigtig af en sny kort sye met skerp mes netjies.  Smeer konfyt oor koek.  Rol koek versigtig met behulp van die doek op.  Sny kante netjies en laat minstens 30 minute op draadrak afkoel.
Advertisements

ROLKOEK (GROOT)

 

 

200 ml strooisuiker                                   
5 ekstra‑groot eiers, geskei
5 ml vanieljegeursel                                 
200 ml koekmeel
3 ml bakpoeier                                            
 knippie sout
fyn appelkooskonfyt
Verhit oond tot 180C.  Smeer rolkoekpan wat nagenoeg 40 x 30 cm groot is, voer dit met waspapaier en smeer die papier ook.
Klits die strooisuiker en eiergele baie goed saam totdat dit dik is. Klits geursel by.  Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam.  Vou dit met ‘n metaallepel in die eiergeelmengsel in.
Klits die witte tot styf, maar nie droog nie.  Vou dit ook liggies by die eiergeelmengsel in.
Sprei die beslag in die rolkoekpan oop.  Bak dit ongeveer 25 minute totdat dit begin verbruin.
Maak ‘n groot skoon doek klam en strooi witsuiker mildelik daarop. Keer die gaar, warm rolkoek daarop uit, verwyder die pan en trek die waspapier versigtig af.  Rol die koek so styf moontlik saam met die klam vadoek op, maar sonder om dit te breek.  Rol dit weer oop.  Smeer appelkooskonfyt oor die rolkoek en rol dit nou styf op, maar die keer sonder die vadoek.  Laat afkoel.
Lewer ‘n groot rolkoek.

ROLKOEK

 

3 eiers                                                                                
1 k suiker
3 e koue water                                                               
1 k meel
1 t bakpoeier                                                                   
sout
Klop eiers en suiker tot dik en voeg water by.  Voeg meel, bakpoeier en sout by.  Bak by 220ºC vir ongeveer 12 minute.