Spaanse Rys

Woumarie

Bestanddele tamatiesous
500 g ryprooi tamaties, gekap
2 groot uie, geskil en in kwarte gesny
4 heel knoffelhuisies, geskil
1 heel rooi brandrissie
1 opgehoopte teelepel paprika
Olyfolie om bo-oor te sprinkel

Bestanddele Rysgereg
3 eetlepels olyfolie (of kookolie)
1 groot ui, fyngekap
6 repies swoerdlose strepiespek, gesnipper
½ elk van ’n rooi, geel en groen soetrissie, pitte en wit gedeeltes verwyder en in stukke gesny
750 g maalvleis
1 koppie rou rys
3 koppies kookwater
1 koppie tuisgemaakte tamatiesous

Metode tamatiesous
Voorverhithit die oond tot 200°C. Plaas die tamaties, ui, knoffel en brandrissie in ’n oondbak. Sprinkel die paprika en olyfolie bo-oor en bak onbedek vir ongeveer 40 minute. Haal dit uit die oond, plaas dit in ’n mengbak en verpulp alles met ’n handmenger of in ’n voedselverwerker. Hou eenkant tot benodig.

Metode Rysgereg:
Voorverhit die oond tot 150°C. Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol (wat ook in die oond kan gaan). Braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die spek en soetrissie by en braai vir nog 5 – 7 minute. Voeg die maalvleis by en roer liggies met ’n vurk deur sodat die maalvleis nie klonte vorm nie. Braai alles liggies saam vir nog 7 minute. Voeg die rys by en roer goed deur. Voeg die kookwater en die tamatiesous by en roer baie goed deurmekaar. Bedek die kastrol en bak in oond vir ongeveer 1 – 1½ uur.

Advertisements