SPAGHETTI MET HOENDERLEWERS EN PYNAPPEL

Rika Theron
(4 porsies)

Bestanddele:
1 ui, in ringe gesny,
2 knoffelhuisies, fyngedruk,
olie,
2 houers (250 g) hoenderlewers, kleiner gesny,
1 tamatie, ontvel en in blokkies gesny,
15 ml koekmeel,
250 ml melk,
1 blik (260 g) pynappelstukke, gedreineer, maar behou sap,
10 ml tamatiepasta (opsioneel),
sout & peper na smaak,
basielkruid na smaak,
250 g spaghetti.

Metode:
Soteer die ui en knoffel in ‘n bietjie olie tot sag. Voeg die hoenderlewers by en braai tot bruin van buite maar nog effens pienk van binne. Voeg die tamatie by en braai tot sag. Meng die koekmeel met ‘n bietjie van die melk, voeg die orige melk by die hoenderlewermengsel. Voeg ook ‘n bietjie van die pynappelsap by indien verkies. Voeg die pynappelstukke by en verhit oor stadige hitte tot goed warm. Voeg die koekmeelblompasta by en roer gedurig tot die mengsel kook en verdik. Voeg die tamatiepasta by indien verkies. Geur goed met sout en peper asook basielkruid na smaak. Kook die spaghetti tot net sag. Dreineer en skep in ‘n opdienbak. Sit dadelik voor saam met die hoenderlewermengsel asook gerasperde Cheddarkaas indien verkies.

Advertisements