Spek-en-Kaas Spaghetti

Magda

Bestanddele
1 Pak Spaghetti
2 Pakke gekapte spekvleis
500 g Gerasperde Cheddarkaas (Hoe meer kaas hoe lekkerder)
2 Pakke Gekerfde Sampioene

Metode
Braai die spekvleis en sampioene saam tot heerlik bruin en bros. Kook die spaghetti tot gaar en dreineer. Roer die warm spaghetti tussen die spekvleismengsel in. Roer al die kaas tussenin en laat dit smelt.

Advertisements

BILTONG, KAAS- EN UIE-POTBROOD

Anna Eksteen

Bestanddele
500g bruismeel                                                             
1 bier
1½ koppies gerasperde Cheddarkaas                            
250ml fyn (nat!) biltong
125ml fyn, bruingebraaide uie

Metode
Meng die meel en bier goed. Voeg 1 koppie kaas, die biltong en ui by en meng alles saam. Plaas dit in jou gesmeerde pot en bedek met die res van die kaas Bak tot gaar. Toets met ‘n skoon mes of totdat hy onderkant mooi hol klink. Eet warm met plaasbotter en konfyt

VARIASIES:
(Sonder die biltong en uie)
‘n Pakkie droë, bruin uiesop.
‘n Eetlepel of twee Marmite of Frey Bentos.
Neute en rosyne.
Spek (brosgebraai en gekrummel)
Olywe, kappers en ansjovis
Baie vars knoffel en pietersielie; gemengde kruie van jou keuse.

HOENDER-BILTONG-EN-SPEKPOTJIE

Anna Eksteen

Bestanddele Sous
2 hoenderaftrekselblokkies                                            
250ml kookwater
500ml droë witwyn                                                        
250ml blatjang
46g sampioensoppoeier (1 pakkie)                                
5ml gedroogde tiemie
5ml gemengde gedroogde kruie                                    
5ml suurlemoenpeper

Bestanddele Hoender
15ml olyfolie                                                                 
15ml botter
12 hoenderdye, ontvel indien verkies                             
250g spekvleis, gekap
50ml brandewyn                                                            
10ml gekapte knoffel – opsioneel
2 uie, in ringe gesny                                                     
½ groen soetrissie, grof gekap
1 seldrystringel, in dun ringe gesny                               
20 klein aartappeltjies, geskil
4 wortels, skyfies gesny                                               
12 klein uitjies, heel
250g knopiesampioene
8 murgpampoentjies, in dik skywe gesny
150g klam beesbiltong, gekerf                                       
250ml gerasperde Cheddarkaas
125ml vars, gekapte pietersielle

Metode Sous
Los die aftrekselblokkies in die kookwater op. Meng die res van die bestanddele vir die sous en voeg dit by. Hou die sous eenkant.

Metode Hoender
Verhit die botter en olie oor matige hitte en verbruin die hoender daarin. Voeg die spekvleis by en soteer dit 3 minute lank. Voeg die brandewyn en knoffel by. Roer dit deur en moet daarna nie weer roer nie. Strooi die uie, soetrissie en seldery oor die hoender en plaas daarna die aartappels en wortels bo-op. Giet die sous oor: Plaas die deksel op en laat dit 1 duur lank prut. Voeg kookwater by indien nodig. Bedek dit en laat prut dit 30 minute lank. Roer dit net voor bediening en strooi pietersielie oor.

Een bak ete

Woumarie

Bestanddele
100 g botter
200 ml koekmeel
1,2 L warm melk
’n knippie muskaatneut
sout en swartpeper na smaak
15 ml (1 e) olyfolie
1 ui, gekap
1 groen soetrissie, in blokkies gesny
250 g sampioene, in kwarte gesny
250 g pasta van jou keuse
250 g spekvleis, in stukkies gesny
500 g maalvleis
125 ml (½ k) gerasperde kaas

METODE:
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smelt die botter en voeg die koekmeel by. Verhit terwyl jy deurentyd roer tot die mengsel begin borrel.
Voeg die warm melk bietjie vir bietjie by terwyl jy aanhou roer. Laat prut tot die sous verdik en gaar is. Geur met muskaatneut, sout en peper. Hou eenkant.

Verhit die olie in ’n kastrol, voeg die ui, groen soetrissie en sampioene by en braai tot die uie deurskynend is. Kook die pasta tot al dente, dreineer en hou eenkant. Wanneer die uie gaar is, voeg die spekvleis by en braai tot die spekvleis amper gaar is. Voeg die maalvleis bietjie vir bietjie by en roerbraai tot dit ook gaar is. Skep ’n laag pasta in ’n oondbak, dan ’n laag van die maalvleismengsel en dan ’n laag witsous. Herhaal die proses en sorg dat jy met witsous eindig. Strooi die gerasperde kaas oor en bak 20 minute.

Gebakte Koolkop

Lynette Muller

Bestanddele
1 middelmatige koolkop
125 g botter
250 ml room, Bulgaarse joghurt of witwyn
geurmiddels
1 koppie cheddarkaas, in repe gesny
vars knoffel na smaak
1 pakkie vars sampioene
1 pakkie repiespek

Metode:
Verwyder buite blare van kool, en sny halfpad in skywe. (Maak soos wanneer jy ‘n knoffelbrood sny. Dit moet nog ‘n vaste basis hê.)
Sit botter, kaas, knoffel en rou sampioene en spek tussen elke skyf. Maak toe met ‘n sterk foelie, en sorg dat daar ‘n klein gaatjie bo is.
Gooi nou die room of yoghurt of wyn daarin. Bak in oond teen 180 grade vir 1 uur. Of nog beter, sit dit langs jou kole op die oop vuur! Heerlik by braaivleis!

TOAD IN A HOLE

Woumarie
Bron: Sarie Kos

Betsanddele
2 eiers
125 g meel
300 ml melk
15 ml korrelmosterd
8 varkworsies
8 snye pancetta of repies spek
45 ml sonneblomolie
sowat 6 takkies vars roosmaryn
sout en varsgemaalde swartpeper

METODE
Klits die eiers, meel en mosterd goed in ’n mengbak om klonte te voorkom. Geur met sout en swartpeper. Laat rus vir 15 minute.
Haal intussen die velle van die worsies af en draai elke worsie toe met pancetta of repies spek. Gooi diesonneblomolie in ’n oondbak van sowat 28 x 21 cm. Dit kan ook ’n kleiner bak wees. Rangskik die worsies in die bak en gooi die melk-beslag oor.
Bak in ’n baie warm oond (220 °C) vir sowat 25-30 minute.

BYGEREG VIR BRAAI VLEIS

Lynette Muller

Bestanddele
1 Brood ( gesny)
Botter
Marmite
2 kOP Gerasperde Kaas
2 pakkie Spek (lekker bruin gebraai)
4 Eiers
1 ½ Koppie melk
Sout en Peper
Skyfies tamatie

METODE:
Smeer die snye brood met botter en marmite en sny die broodsnye in halwes. Klits eiers in die melk en gooi bietjie sout en peper by.
Smeer ‘n vuurvaste bak. Pak ‘n stewige laag met die gesmeerde broodjies onder in die bak, rangskik spekvleis en tamatiesnye bo oor, strooi nou die kaas bo-oor. Gooi die eier-mengsel bo-oor en bak in oond by 180 *C vir 30 minute tot goudbruin

BROOD-EN-EIERGEREG

Rika Theron

Bestanddele
6 snye brood, met botter gesmeer,
6 eiers, tamaties,
sout,
gerasperde kaas,
ontbytspek,
peper,
melk.

Metode
Pak ‘n laag brood in gesmeerde bak.  Sny ‘n paar skywe tamatie bo-oor, sprinkel sout, peper en ‘n laag kaas oor.  Pak nog ‘n laag brood en tamatie, plaas ‘n paar repies spek bo-op en strooi ‘n dik laag kaas oor.  Klits eiers en melk goed met sout en peper en gooi bo-oor.  Bak in matige oond tot eiers gaar is.

FAMILIEGUNSTELING

Rika Theron

Bestanddele
1 pakkie spekvleis, fyngesnipper,
klein blikkie tamatiepuree,
1 blikkie Weense worsies in wieletjies gesny,
1/2 k water,
klein blikkie Idealmelk,
1 medium ui, fyngekap,
1 huisie knoffel, fyngekap,
1/2 t kerriepoeier,
1/4 t paprika,
1/2 t braaivleisspeserye,
Fondorsout,
peper,
1/2 – 1 k gerasperde kaas,
1/2 pakkie gaar macaroni.

Metode
Braai uie en knoffel in ‘n bietjie olie, voeg spekvleis en Weense worsies daarby en braai tot bruin. Voeg daarby die tamatiepuree, water, Idealmelk en kruie na smaak. Soteer oor medium hitte vir ongeveer 5 minute. Roer die vleismengsel liggies in die gaar pasta. Skep in diep oondbak. Strooi kaas egalig bo-oor. Bak in warm oond (230°C). Bedien met ertjies en tamatieslaai.

ROL~BROODJIE

¾ pak deeg (ready-made dough)

1 blikkie tamatie puree

250 g spekvleis

1 ui

375 ml gerasperde cheddarkaas

 

  •  Voorverhit oond tot 200. Rol deeg uit
  •  Smeer tamatie puree oor deeg
  •  Braai spek en ui en smeer oor
  •  Sprinkel kaas oor
  •  Rol deeg in lengte op soos swiss rol
  •  Plaas in gesmeerde brood pannetjie en laat rys eers bietjie voor bak
  •  Bak half +/- 30 minute

Kan ook enige vulsel soos verkies gebruik

 

Resep met vergunning van Anna Eksteen