FRIKKADELSLAAI:

Rina

Frikadelle:
500 g maer maalvleis
1 sny brood, geweek in 100 ml melk
1 klein ui, fyn gekap
5 ml sout
varsgemaalde swartpeper na smaak
1 ml fyn naeltjies
30 ml wynasyn
50 ml gekapte pietersielie.

Metode
Krummel brood. Voeg res van bestanddele by. Meng liggies met ‘n vurk. Vorm klein frikkadelle. Plaas op ‘n bakplaat. Bak by 160 C vir 20 minute en laat afkoel.

Slaai:
1 krop botterslaai
½ Engelse komkommer, in skywe gesny
425 g-blikkie klein mielies, gedreineer
150 g swart druiwe
10 kersietamaties
30 ml gekapte pietersielie.

Metode
Pak blaarslaai op ‘n groot plat bord. Rangskik frikkadelle, komkommer, mielies, druiwe en tamatie bo-op slaai. Sprinkel met pietersielie.

Advertisements

TUNAHAPPIE

Rika Theron
6 porsies

Bestanddele:
6 snye witbrood, korsies verwyder,
botter,
Old Cape mosterd,
1 ui, fyngekap,
2 knoffelhuisies, fyngedruk,
olie,
2 blikke (200 g elk) gesnipperde tuna, gedreineer,
75 ml fyngekapte pieterselie,
375 ml gerasperde Cheddarkaas,
1 groot tamatie, ontvel en in skywe gesny,
sout & peper na smaak,
250 ml melk,
2 eiers,
5 ml paprika.

Metode:
Voorverhit oond tot 180°C. Smeer die brood aan albei kante met botter. Smeer ‘n bietjie mosterd oor die bokant van elke sny brood. Rangskik die brood in ‘n 30 x 21,5 cm oondvaste bak. Soteer die ui en knoffel in ‘n bietjie olie tot sag. Voeg die tuna en pieterselie by en skep bo-oor die brood. Sprinkel die kaas oor en pak die tamatieskywe bo-op. Geur goed met sout & peper. Klits melk, eiers en paprika saam en giet oor die tunamengsel. Bak sowat 30 minute lank of totdat die eiermengsel gestol is. Dien warm op.

BROOD-EN-EIERGEREG

Rika Theron

Bestanddele
6 snye brood, met botter gesmeer,
6 eiers, tamaties,
sout,
gerasperde kaas,
ontbytspek,
peper,
melk.

Metode
Pak ‘n laag brood in gesmeerde bak.  Sny ‘n paar skywe tamatie bo-oor, sprinkel sout, peper en ‘n laag kaas oor.  Pak nog ‘n laag brood en tamatie, plaas ‘n paar repies spek bo-op en strooi ‘n dik laag kaas oor.  Klits eiers en melk goed met sout en peper en gooi bo-oor.  Bak in matige oond tot eiers gaar is.

TAMATIE STAMPMIELIES:

Anna Eksteen

Bestanddele
500ml rou stampmielies (oornag geweek)                       
1 ui, fyn gekap
olie                                                                               
3 tamaties, ontvel en fyn gekap
sout en varsgemaalde swartpeper
150ml Cheddarkaas (gerasper)

Metode
Giet die weekwater van die stampmielies af en bedek met koue water. Verhit tot kookpunt en laat prut dan tot sag. Geur aan die einde van die kooktyd met sout. Dreineer en druk effens fyner met ‘n aartappeldrukker. Voeg ‘n klontjie botter asook ‘n bietjie melk by indien verkies. Soteer die ui in ‘n bietjie olie tot sag. Voeg die tamatie by en prut tot ‘n lekker sous gevorm is. Geur met sout en peper en voeg  stampmielies by. Meng liggies deur, voeg die helfte van die kaas by en meng.  Strooi die orige kaas bo-oor.

Gemarineerde tamaties

Bestanddele
400 g verskeidenheid ryp tamaties
250 ml (1 k) witwyn
80 ml (¹⁄³ k) witwynasyn
2 stukke suurlemoenskil
15 ml (1 e) strooisuiker
30 ml (2 e) olyfolie
3 takkies elk vars orego, tiemie en roosmaryn
5 ml (1 t) swartpeperkorrels
sout na smaak
Metode
Sny ’n kruisie aan die onderkant van die tamaties, sit in ’n groot bak en gooi kokende water daaroor. Laat staan vir 1 min. Haal uit, sit in ’n bak yswater en trek die skilletjies versigtig af. Meng die res van die bestanddele saam. Gooi oor die tamaties en marineer vir minstens 30 min. Sit in ’n glasbak of bottel.

NOEDELSLAAI:

 

Dankie vir jou resep Okkie

 

1 pak (500g) skroef of skulpnoedels                            
1 soetrissie
1 ui                                                                                
250 ml tamatiesous
125 ml asyn                                                                 
125 ml sonneblomolie
200ml witsuiker                                                                     
25ml matige kerriepoeier
paar druppels Tabascosous
Kook die noedels volgens die aanwysings op die pakkie tot gaar.  Laat dit goed dreineer.  Halveer, ontpit en sny die soetrissie fyn.  Skil en kap die ui fyn.  Meng die noedels, ui en soetrissie in’n slaaibak.Meng die tamatiesous, asyn, sonneblomolie, witsuiker, kerriepoeier, Tabascosous en peper.  Giet dit oor die noedelmengsel en meng dit liggies.  Verkoel voor opdiening.

Advokado en Kiwi- Sambalslaai

 

Dankie vir jou resep Jan
1 Groot of twee klein advokadopere geskil en in blokkies gesny
2 Ryp kiwivrugte geskil en in blokkies gesny
4 Sprietuie fyn gekerf
2 Ryp tmaties in blokkies gesny
1 Brandrissie fyn gekerf
30 ml Suurlemoensap
3 ml Gegeurde seesout
Metode:
Meng al die bestanddele liggies saam en sit voor.

Tamatievleisgereg

Bestanddele
1 ui (gekap)                                                                                       
12.5ml kookolie
500g maalvleis                                                                  
125ml broodkrummels
60ml tamatiesous                                                                           
1 eier geklits
2ml gemengde kruie                                                                     
Sout en peper na smaak
250ml Cheddarkaas
 
Metode
Braai die ui liggies in die olie tot die maalvleis lekker los is en die rooi kleur verdwyn. Verwyder van die hitte en voeg die ander bestanddele by. Roer goed deur. Skep in ‘n gesmeerde bakskottel en bak 25 min.

Rou groenteslaai

 Bestanddele

250ml geelwortels, in repies gesny                                         
250ml knopiesampioene, in skyfies
250ml blomkool, in klein stukkies gesny                                
250ml tamaties, in blokkies gesny
250ml murgpampoentjies, in ringe gesny                             
125ml groen soetrissie, in dun repies
Bestanddele Sous
45ml kookolie                                                                   
30ml suurlemoensap
100ml water                                                                                       
 3ml grof gemaalde swartpeper
3ml gemengde kruie
Metode
Meng al die slaaibestanddele en plaas in die yskas. Plaas al die sousbestanddele in ‘n bottel met ‘n prop en skud baie goed. Gooi die sous oor die slaai.

Gevormde Kaas slaai (Lizbe Jacobs)

Bestanddele
1 Pakkie Groen Jellie
250ml Kookwater
250 ml Koue water
30 ml Asyn
125 ml Room
50 ml Fyn gekapte Pietersielie
20 g Gekapte Neute
Knypie Rooipeper
250 ml Gerasperde Cheddar Kaas
1 Blik (410 g) fyn Pynappel
Tamatie Blokkies en Gerasperde kaas vir garnering

Metode
Los Jellie op in Kookwater. Voeg Koue water en asyn by. Roer af en toe.
Laat afkoel tot amper gestol. Dreineer Pynappel goed. Voeg al die bestanddele by en meng goed. Smeer vorm met olie. Vorm moet 750 ml groot wees. Gooi mengsel in vorm en laat stol in yskas. Ontvorm die slaai net voor opdiening deur die rand met mes los te maak. Keer slaai op koue opdien bord uit. Strooi tamatie blokkies rondom.
Strooi kaas en Paprika bo-oor.

Wenk
Tamatie garnering kan vervang word met grof gekapte geelwortels. Stukkies Olywe en gekapte agurkies kan ook by kaas mengsel gevoeg word.