AARTAPPEL EN WORTEL GEREG (KOEK)

Okkie Jansen van Vuuren

Dis ‘n heerlike resep vir ‘n styselgereg. Sny in klein skyfies en sit voor met ander groente en die hoofgereg.

Bestanddele
500g aartappels, geskil
sout en gemaalde swartpeper
175g uie, geskil en gekap
25g botter
15ml olyfolie
225g wortels, gerasper
30ml gemengde kruie, gekap

Metode
Smeer ‘n losboompan van 20cm en verhit die oond tot 190C. Sny die aartappels baie dun in die dwarste, en rangskik die helfte van die skywe onder in die pan. Geur goed met sout en peper. Braai die uie in die botter en olie tot goudkleurig. Meng met die gerasperde wortels en gekapte kruie. Druk die mengsel op die aartappels en geur weer. Bedek met die res van die aartappels en borsel met gesmelte botter. Bak 30 minute lank in die warm oond. Toets met ‘n skerp mes of die aartappels gaar is. Verwyder die kante van die pan en plaas die koek nog 5 minute lank in die oond. Sny soos ‘n gewone koek en skep op borde met ‘n koekspaan. Lewer 8-12 porsies.

Advertisements
 

Komkommer Konfyt

Ingestuur deur Joeye Hanekom

Bestanddele
750g engelse komkommer
250g wortels
1kg suiker
3 koppies water.
2 Blikkies fyn pynappel
Sout na smaak

Metode
Rasper komkommer en geskilde wortels op growwe kant van rasper.
Voeg suiker en water by en laat oornag staan.
Kook tot amper reg en voeg dan 2 klein blikkies crushed pynappel en n knypie sout by.
Kook tot reg is.
Laat koud word en bottel.
Indien verkies kan komkommer afgeskil word.

 

Suikervrye wortelkoek

Bestanddele
375 ml (1½ k) bruismeel, gesif
10 ml (2 t) fyn kaneel
5 ml (1 t) koeksoda
180 ml (⅔ k) xylitol
80 g pampoensaad, grof gekap
2 eiers
125 ml (½ k) kanola-olie
3 wortels, gerasper
60 g sultanas

Metode
Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 18 cm ronde bakpan en voer dit met bakpapier uit. Meng die meel, kaneel, koeksoda, xylitol en pampoensaad in ’n groot mengbak. Klits die eiers en olie saam in ’n aparte bak of beker. Giet in die meelmengsel en roer tot gemeng. Roer die wortels en sultanas in. Skep in die gevoerde pan en maak die oppervlak glad. Bak 50 minute of tot die bokant veerkragtig voel wanneer jy daaraan raak en ’n steekpen skoon uitkom wanneer dit in die middel van die koek ingedruk word. Laat koel 10 minute af op ’n draadrak en keer dan uit en laat heeltemal afkoel.

 

Wortel en Pynappelring

Dankie vir jo resep Jan
500 ml Gerasperde wortel
1 Blik 440g fyn pynappel
1 Pakkie suurlemoenjellie
125 ml Suiker
1 ml Sout
125 ml Room
Metode:

Plaas die gerasperde wortel in ‘n mengbak. Dreineer die pynappel en behou die sap. Vul die sap aan met water tot twee koppies sap. Gooi sap in kastrol en verhit tot kookpunt en los jellie daarin op. Laat afkoel tot dik maar nie gestol. Klits die jellie tot romerig. Klits nou die suiker bietjiesgewys by en dan die sout. Meng die pynappel en wortels in. Klits die room tot styf en vou by die wortelmengsel in. Spoel die ring uit met yskoue water. Gooi die slaai in die vorm en verkoel in die yskas tot goed gestol. Lewer 6 tot 8 porsies

 

Wortelslaai met Vrugte

Baie dankie vir jou resep Jan
1 Blik 410g vrugteslaai
2 Koppies fyngerasperde wortel
1 Pakkie 80g pynappeljellie
½ Koppie water
Metode:
Dreineer die vrugte maar hou die stroop. Sny die vrugte  fyn stukkies en voeg by die wortels in ‘n slaaibak. Meng die stroop en pynappeljellie. Verhit dit tot net nadat jellie opgelos is. Voeg die water by. Roer die jelliemengsel by die wortelmengsel. Spoel ‘n slaaivorm met volume van 1 liter met koue water uit. Giet die mengsel daarin en plaas in yskas vir 3 uur om goed te stol. Ontvorm die slaai op ‘n plat opdienbord en vul die holte met stukkies vrugte. Lewer 6 porsies.

 

 

Anderse Wortelslaai

Baie dankie vir jou resep Jan
450 g Wortels geskil en gerasper
75 g Radyse gewas en in skyfies gesny
60 ml Gekapte pietersielie
SOUS
90 ml Olie
30 ml Suurlemoensap
60 ml Lemoensap
5 ml Heuning
3 ml Sout
Metode:
Meng die wortels, radyse en pietersielie in ‘n slaaibak.
Meng die bestanddele vir die sous saam en gooi oor die slaai.  Verkoel in yskas tot opdiening.

 

 

Kerrie Wortelslaai

Dankie vir jou resep Jan
Bestanddele
2 kg Geelwortels geskil en dun wielietjies gesny
1 kg Uie Skoongemaak en dun ringe gesny
25 ml Sout
500 ml Witasyn
250 ml Suiker
15 ml Matige kerrie
45 ml Mielieblom
Metode:
Sny wortels in dun wielietjies en uie in skywe. Plaas in kastrol.  Bedek met kookwater, voeg die sout by en kook tot sag. Dreineer goed. Voeg 400ml van die asyn by die groente en laat net opkook. Meng suiker, kerrie, mielieblom en res van asyn. Roer by die wortelmengsel, kook 6 minute, haal van die stoof af en skep in gesterilseerde flesse. Lewer vier 750g flesse.
 

Koperpennie Wortelslaai

Nog n resep van Jan
1 kg Wortels
3 Uie
3 Groen rissies
SOUS
250 ml Water
1 Pakkie tamatieroomsop
200 ml Witasyn
250 ml Suiker
125 ml Olie
10 ml Worcestershire sous
7 ml Mosterd
Metode:
Sny wortels in wielietjies. Kook wortels vir 15 minute’ Kerf uie grof en kook. Sny Groenrissise in blokkies. Pak wortels uie en rissies in lae in ‘n slaaibak.

 

Meng al die bestanddelle vir die sous saam en kook vir drie minute. Gooi die warm sous oor die slaai. Laat staan in die yskas vir ten minste een dag voor gebruik. Lewer 8 porsies.
 

Soetsuur Wortelslaai

Jan was weer besig in die kombuis, Dankie vir jou resep Jan
1 kg Geelwortels in skywe gesny
1 Soetrissie in repies gesny
2 Uie in skywe gesny
250 ml Tamatie puree
250 ml Witasyn
45 ml Kookolie
30 ml Worcertershire sous
250 ml Suiker
5 ml Aangemaakte mosterd
5 ml Sout
3 ml Varsgemaalde swartpeper
Metode:

 

Kook wortels tot net gaar, moet ferm wees en dreineer. Rangskik wortels, rissie en uie in lae in ‘n slaaibak met deksel en eindig met ‘n laag wortels. Meng res van bestanddele in kastrol en bring tot kookpunt. Prut 2 minute terwyl aanhoudend geroer word. Giet sous oor die slaai en laat afkoel. Plaas deksel op en marineer 2 dae in yskas. Lewer 8-10 porsies.